Luna Paige (foto) stel haar nuwe vertoning, robot.reboot, op Donderdag 24 Augustus om 20:15 by die Drostdy-teater in Stellenbosch bekend. Met dié vertoning stel die plaaslike sanger ook haar nuwe musiek bekend. Sy sal die verhoog met Anjulie Nock (tjello) en Schalk Joubert (baskitaar) deel. In robot.reboot speel Luna met temas rakende die pas van die moderne lewe, sosialemediawerksdruk en die vind van balans binne ’n see van skerms. Luna bêre ’n paar van haar nuwe liedjies vir ’n tweede musiekproduksie, Saam (All)een, wat Sondag 8 Oktober eenmalig by die US Woordfees opgevoer sal word. Hier sal sy met die Zolani-jeugkoor en ’n volle orkes optree. Kaartjies vir die bekendstelling van robot.reboot by die Drostdy-teater kos R165 elk en kan aanlyn by Computicket bespreek word.Foto: Jessica Botha