Die Stellenbosse sanger Luna Paige stel Vrydag (5 April) twee enkelsnitte met ’n konsert by die Drostdy-teater bekend.
Aanhangers kan uitsien na die bekendstelling van haar Afrikaanse nuutskepping “Dis die dors” en haar onlangse Engelse nuutskepping “Rather be alone than alone in love”. Die bekendstelling van die twee enkelsnitte dien as voorlopers tot die bekendstelling van twee nuwe vollengte albums, wat Vrydag 12 April aanlyn bekendgestel word.
Dit is die eerste keer in 10 jaar wat Paige ’n nuwe solo album bekendstel.
Dis die dors is haar tweede Afrikaanse solo album. Paige het die snit “Dis die dors” as titelsnit vir die album gekies omdat sy glo dié lied vang die essensie van die album vas.
Harmony is haar vyfde Engelse solo album. “Harmony” is as titelsnit vir die album gekies omdat die lied op sy beurt weer die Engelse album in geheel vasvang. “Harmony” is geskoor op die filosofieë van Plato en Heroclitus, en speel met die tema van teenoorgesteldes – lig, donker, goed, sleg, heelheid en gebrokenheid.
Waar “Dis die dors” introspektief handel oor die mens versus natuur, handel “Harmony” oor die mens in verhouding tot ander mense, “oor ons verhoudings met mekaar én met die wyer samelewing”.
Die musiek is ’n eklektiese mengelmoes van invloede uit verskeie genres soos folk, pop, blues, wêreldmusiek, ska/reggae, gypsy-musiek en rock.
Vir die konsert is Mauritz Lotz op kitaar, Schalk Joubert op baskitaar, Kevin Gibson op tromme, Blake Hellaby op klawers, Tim Welsh op saksofoon en Petrus de Beer op viool in aksie. Daar sal ook ’n paar gaskunstenaars wees.
Die vertoning en bekendstelling is om 19:00 vir 20:15 by die Drostdy-teater op die hoek van Alexander- en Birdstraat. Kaartjies kos R195 elk en kan aanlyn by Webtickets bespreek word.