Die liggaam van ’n onbekende man is Saterdag (26 Augustus) langs die R44, tussen Langstraat en die Pienk-woonstelle gevind.
Volgens Adjudant-Offisier Zenobia Sedeman, polisiewoordvoerder, het die Cloetesville-polisie omstreeks 10:15 ’n oproep ontvang van ’n liggaam wat lang die pad lê.
“Met aankoms op die toneel het die beampte aan diens opgelet dat ’n lewelose manspersoon by gemelde adres lê. Die ambulansdienste was gekontak en het die onbekende manspersoon dood verklaar,” sê Sedeman.
Sy sê in hierdie stadium kan die identiteit van die persoon nog nie bevestig word nie en ’n geregtelike doodsondersoek is geopen.
“Geen sigbare tekens van wonde is op die persoon se liggaam nie gesien nie. Ons kan ook bevestig dat die voorval nie bende verwant is nie.”
Enigeen met inligting rakende die oorledene kan Cloetesville-polisie of vir Adjudant-Offisier Rian Wiese by 082 778 9952 bel.