Die nuwe jaar het op ’n somber noot begin ná die ontdekking van twee lyke in die berggebied bo Coetzenburg in Stellenbosch verlede week.
Die Stellenbosch-polisie het geregtelike doodsondersoeke geopen na die dood van die twee mans in afsonderlike voorvalle op Woensdag 3 en Vrydag 5 Januarie.
Die eiendom waar albei lyke deur verbygangers ontdek is, behoort aan die Universiteit Stellenbosch (US).
Volgens kol. Brian Muller, hoof van sigbare polisiëring (Vispol) vir Stellenbosch, word geen misdaad vermoed nie.
“In die eerste voorval op Woensdag 3 Januarie het ons vroegoggend ’n oproep van ’n stapper ontvang wat die ontdekking gemaak het,” sê hy.
“Met hul aankoms het die beamptes die lyk van ’n man wat aan ’n boom hang gevind. By nadere ondersoek is sommige van die man se besittings naby gevind, terwyl sy selfoon ook in sy besit is. Geen misdaad word vermoed nie,” sê Muller.
In die tweede voorval het ’n verbyganger ook die polisie in kennis gestel van die ontdekking van ’n lyk wat vroeg Vrydagoggend (5 Januarie) in die Ertjieskloofdam dryf, sê Muller.
“Toe die polisiebeamptes by die toneel opdaag, het hulle die lyk van die man gevind wat met die gesig na onder in die water dryf. Hy was kaalvoet en geklee in kortbroek en ’n frokkie,” sê hy.
“Verdere ondersoek het bevestig dat familielede die oorledene as vermis by die Stellenbosch-polisiekantoor aangemeld het.
“Hierdie gevalle hou nie verband nie, die ontdekkings was nie in ’n nabye omgewing aan mekaar nie, en ons ondersoeke toon dat albei nie aan enige vorm van misdaad gekoppel is nie.”
Eikestadnuus kon nie vasstel wanneer die tweede man as vermis aangemeld is nie.
Martin Viljoen, woordvoerder van die US, het die voorvalle op die universiteit se eiendom by Ertjieskloofdam en die Stellenboschberg bevestig.
“Die bestuur van die US het verlede week met groot besorgdheid verneem van iemand wat klaarblyklik in die Ertjieskloofdam bokant Coetzenburg verdrink het; en ook vroeër die week wat betref die lyk van ’n man wat in die Stellenboschberg-gebied gevind is,” sê hy.
“Kampussekuriteit, die polisie en die Stellenbosch-nooddienste was op die toneel by die dam op Vrydag 5 Januarie. Die US spreek sy medelye uit teenoor die naasbestaandes van die oorledenes.”
Volgens Muller is die voorvalle geïsoleer en die Stellenbosch-polisie het geen klagtes van misdaad in die gebied ontvang nie.
“Mense besoek daagliks die gebied om te stap en swem graag in die dam. In hierdie stadium is daar geen rede om oor veiligheid in die gebied bekommerd te wees nie, want ons het geen klagtes van die publiek ontvang nie,” sê hy.
Viljoen voeg by dat die US nie toegang tot die Stellenboschberg-gebied en Ertjieskloofdam beperk nie.
“Dit word reeds baie jare deur studente, personeel en die publiek vir rekreasie-doeleindes gebruik,” sê Viljoen.
“Alhoewel
die area gereeld gepatrolleer word, word diegene wat die Stellenboschberg
besoek aangeraai om dit in groter groepe te doen – soos wat die geval sou wees
wat betref enige ander afgeleë en beboste ontspanningsgebiede in die Kaapse
Skiereiland.”