‘n Ma is met ‘n gebreekte been gestrand gelaat en haar dogter erg getraumatiseer nadat ‘n taxirit van Stellenbosch tot vermoedelik ontvoering, poging tot moord en aanrandig gelei het.

Die ma en dogter is Sondag 13 Julie na Stellenbosch om inkopies te doen. Na afloop van hul besoek aan die winkels is die twee na die Stellenbosch-treinstasie om ‘n taxi huis toe te haal. Daar was egter nie ‘n taxi nie en die twee het toe geryloop op pad terug huis toe.

Volgens die Stellenbosch-polisie is die twee toe deur ‘n taxi opgelaai, wat reeds drie mans ingehad het. Nadat die ma en dogter vir die rit betaal het en die taxi naby die plaas Asara was, het die ander insittendes langs die twee kom sit. “Die verdagtes het die klaer met die vuiste in die gesig geslaan. Hulle het toe in haar sak begin krap en die taxibestuurder het by ‘n vulstasie in Vlottenburg stilgehou,” het kapt. Nathalie Martin, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, bevestig.

Een van die aanvallers het by die vulstasie uitgespring, vermoedelik om geld te trek. Die ma het toe begin alarm maak en geskree terwyl die ander twee verdagtes haar glo aangerand het. Die dogter het ‘n kans gewaag en uit die voertuig gespring.

In die chaos het die taxibestuurder vermoedelik paniekerig begin raak en weggery en sy makker in die winkel by die vulstasie agtergelaat.

Volgens die klaer het sy haar bewussyn in die taxi verloor en sy is by Summerhill, Eersterivier, uit die taxi gegooi. Haar been is in die proses gebreek.

Iemand het haar na die Mfuleni-polisiekantoor gehelp.

“Die Stellenbosch-polisie het ‘n klagte van openbare geweld ontvang en is na die vulstasie op die Polkadraai-pad,” het Martin gesê. “By die vulstasie was ‘n skare wat aggressief op iemand in die winkel geskree het. Polisiebeamptes is in kennis gestel dat die verdagte glo deur gemeenskapslede binne die winkel aangerand is.”

Beamptes het van die ontvoering te hore gekom, waarna beide die verdagte sowel as ‘n gemeenskapslid in hegtenis geneem is. Die gemeenskapslid word van openbare geweld aangekla.

Die verdagte in die ontvoeringsaak is later na die Stellenbosh-hospitaal geneem.

“Moenie stap of ryloop vir ‘n geleentheid huis toe nie – dit is gevaarlik,” het Martin waarsku.

Sy maan pendelaars om vooraf reëlings te tref vir vervoer.

“Moenie op vreemdelinge of informele saamrygeleenthede staatmaak nie – veral nie in afgesonderde of onveilige gebiede nie. Jy weet nooit wat hul bedoelings is nie. Jy kan die teiken van ontvoering, mensehandel of uitbuiting word. Bel liewer ‘n saamrydiens of vertroude kontak om jou op te laai.”

Die Stellenbosch-munisipaliteit het Vlottenburg-gemeenskapslede in ‘n verklaring vir hul vinnige optrede geprys.

Die munisipaliteit het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die polisie die kans te gee om die saak te ondersoek sonder om in te meng.

Martin het bevestig ‘n tweede verdagte is Sondag in hegtenis geneem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article