Marconette Els (links) omhels haar ma, Corné, in pure dankbaarheid en blydskap by die eindstreep by Babylonstoren.Foto: Babylonstoren


Dit was ’n gesig van inspirasie en pure blydskap toe ’n ma van Gordonsbaai, Corné Els, Saterdag met haar ou rooi trekker by die Glasrestaurant op Babylonstoren, Simondium, stop en ’n dankbare dogter haar met ope arms verwelkom.

Dít was die einde van ’n 1 796 km lange trekkertog van Krugersdorp tot in Klapmuts wat Corné as ’n geldinsameling ter ondersteuning van haar dogter, Marconette Els, se toutrek-droom afgelê het.

Sy het van Gauteng deur Noord-Wes, die Vrystaat en Noord-Kaap tot in die Wes-Kaap by Babylonstoren gery.

“Ek het dié uitdaging aangepak vir Marconette se droom om oorsee te reis en aan die kampioenskap deel te neem. Die oorspronklike gedagte het by my opgeduik om 1 600 km af te lê en sodoende R160 000 in te samel . . . toe dink ek dis nogal oulik: Om ’n ‘trekkertog vir toutrek’ aan te pak,” het sy Paarl Post meegedeel.

Marconette, ’n leerling aan die Hoërskool Strand, is gekies vir die nasionale span wat einde Augustus aan ’n toutrekkompetisie in Switserland by die wêreldkampioenskap gaan meeding.

So het dié boer met ’n plan haar 1964 Massey Ferguson Diesel Deluxe op hul familieplaas in Krugersdorp opgesaal.

Sy vertel dat dié getroue trekker maar met ’n slakkepas, tussen 22 en 25 km/h, die pad trotseer het. Gelukkig was Corné nie alleen in haar missie nie. Haar man, Tienie Els, het die uitdaging agter haar in ’n voertuig op die pad aangepak.

“In die begin het ons so gegrap ‘ons was lekker dom en dapper’. Maar ná ’n paar dae op die pad tussen die son en die reën, toe was ons net dapper,” skerts sy.

Op sy beurt sê die tuinier op Babylonstoren, Brent Reid: “Dié trekkertjie is dalk diep in die vyftig, maar beslis nog nie koud nie. Dit is bewys toe dit met soveel kilometers agter die blad op 1 Julie die eindstreep by Babylonstoren oorgesteek het.

“Op Babylonstoren gaan dié trekkertjie nou in sy goue jare deel van ons lewendige en aktiewe span op die plaas vorm. Ons sien uit om die wysheid wat dit deur die jare (en ná so ’n lang tog) opgedoen het te omarm.”

Langs die langpad het dié vasbeslote ouerpaar staatgemaak op die gasvryheid van wildvreemde Suid-Afrikaners wat bereid sou wees om hulle vir ’n nag te akkommodeer.

Maar hoe het haar mede-landsburgers Corné op die reistog ontvang?

“Ek het nie woorde nie! Die mense se gasvryheid het my verstom. Elke mens by wie ek aangeland het, was egte hartsmense!

“Dit was aande saamkuier met wildvreemde mense wat ons sonder huiwering ingeneem het. Ons het só lekker gekuier en nuwe mense leer ken dat dit voel asof ek friends for life op dié pad gemaak het.”

Haar stem toon algehele tevredenheid as sy dink aan die inspirasie wat die storie aan ander kan bied.

“Ek glo dit word so positief ontvang omdat dit iets so ongewoon en ’n breuk van die alledaagse is.”

Dit alles was uit-en-uit die moeite werd, aangesien hulle altesaam skuins oor R100 000 kon insamel.

“Ons mis die merk met ’n klein bietjie, maar my hart loop steeds oor van dankbaarheid. Marconette kan gaan en sy sal goed toegerus wees om aan die kompetisie in Switserland deel te neem.”

Met haar koms op Babylonstoren se immergroen paadjies het die trane van Corné se wange gerol, terwyl sy met verligting en tonne trots opgestaan en uitbasuin het: “Ek het dit gemaak!”

You need to be Logged In to leave a comment.