Ma van 3 lei nou polisie in Cloetesville

“Hierdie is ’n gemeenskapsdiens­sentrum. Ons moet altyd gedissiplineerd wees, want dit is iets wat die publiek sien nog voordat ek my mond oopmaak. Daardie trotse polisiebeampte soek ek terug hier by Cloetesville.”.


“Hierdie is ’n gemeenskapsdiens­sentrum. Ons moet altyd gedissiplineerd wees, want dit is iets wat die publiek sien nog voordat ek my mond oopmaak. Daardie trotse polisiebeampte soek ek terug hier by Cloetesville.”

Dit is die woorde van lt.kol. Monique Fortuin, Cloetesville-polisie se nuwe stasiebevelvoerder.

Fortuin vier vanjaar haar 21ste jaar in die polisiediens en is g’n vreemdeling aan die gebied nie. “Destyds toe ek hier was, was ek daar buite en moes misdadigers aankeer – die skietery en die bendes. Nou is daar ander paaie wat ek as stasiebevelvoerder moet volg. Ek sien uit daarna en vir die afgelope paar dae [in die pos] was daar reeds positiewe aksies met die beamptes van die polisiekantoor.

“Ek glo jou huis binne moet eers skoongemaak word voordat jy daar buite kan skoonmaak; ook sodat ons as ’n span daar buite kan uitgaan om die gemeenskap te dien en misdaad hok te slaan,” vertel sy.

Fortuin het Dinsdag 7 Mei teruggekeer na die Wynlande nadat sy oor die jare ’n draai in Kampsbaai, die Kaapse Vlaktes en mees onlangs ook in Gugulethu gemaak het. Hier was sy die waarnemende stasiebevelvoerder.

“Dit was aanvanklik ’n aanpassing om te gaan van werk in die veld na agter ’n lessenaar inskuif,” verduidelik sy. Fortuin meen egter haar verskeie posisies het haar operasionele vaardighede verskerp en haar geleer om te dink aan die groter prentjie van veiligheid.

Fortuin se droom was egter nie altyd om ’n beampte in blou te wees nie. Dit was ná haar tweede jaar van verpleegkunde dat sy die ommekeer na wetstoepassing gemaak het. “ ’n Vriendin het vir my die aansoekvorms gegee en gesê ons moet aansoek doen. In daardie stadium was ek op vakansie en ek was oortuig ek gaan terug vir my derde jaar,” verduidelik sy.

Haar pa het haar egter aangemoedig om aansoek te doen en na afloop van haar psigometriese toetse was sy twee weke later by die polisiekollege. In ’n kwessie van weke laat sy toe haar planne in die mediese veld agter en is na Graaff-Reinet se polisiekollege. Ná ses maande by die kollege was haar eerste pos by Paarl-Oos, in haar tuisdorp.

Ná jare van skofte werk, gemeenskaps­polisiëringwerk en verskeie eenhede is Fortuin gekies as een van drie plaaslike beamptes wat deel van ’n nuwe eenheid sou wees – die teen-bende-eenheid. As lid van die toe nuutgestigte eenheid het sy in bendegeteisterde gebiede op die Kaapse Vlaktes gewerk.

Dit was dus ’n ommeswaai om hierna in Januarie 2019 na Kampsbaai te skuif, waar sy meer aan die bedryfskant van polisiesake gewerk het.

“Daardie pos het my kom sit maak. Die polisiekantoor het nie noodwendig erge misdaad gehad nie, maar het met ’n ander stel uitdagings gekom.”

Dit is ook die pos waar sy geleer het om die uiteenlopende toutjies van polisiëring bymekaar te trek.

Toe was dit Seepunt, terug na Kampsbaai en uiteindelik ’n oorplasing na Gugulethu.

“Sommige mense het gesê ek moet teen die verskuiwing veg, maar ek het geweet ek kan ’n verskil maak. Ek wou nie negatief in die pos ingaan nie, want dit sou dan wees hoe ek die gemeenskap hanteer. Whatever must be, must be, het ek vir myself gesê.”

’n Paar maande later bring haar man, ook ’n polisiebeampte, toe vir haar ’n advertensie vir die poste van stasiebevelvoerder by Cloetesville en Pinelands, en ná ’n gewik-en-weeg het Fortuin aansoek gedoen.

Nou bring sy haar meer as twee dekades se ervaring na die Cloetesville-gemeenskap, wat deur verskeie maatskaplike uitdagings in die gesig gestaar word.

“Hulpbronne sal altyd ’n uitdaging bly. Ons sal nooit genoeg wees om alleen ’n verskil te maak nie en daarom is dit belangrik om saam met ons vennote soos die verkeersafdeling en ander wetstoepassers te werk.

“Wanneer dit reg is, en ons positief is, kan ons uitgaan om die gemeenskap te dien soos wat dit moet wees.”

Fortuin sê wat die bendes in die buurt betref, glo sy aan sigbare polisiëring. “Ons moet in die veld wees, anders gaan ons niks regkry nie. Anders gaan ons mense dood, ons kinders word geskiet – ons moet voorkom dat dit gebeur.”

Fortuin is self ’n ma van drie. Haar man is lid van die honde-eenheid en Fortuin meen dit help om ’n eggenoot te hê wat die uitdaging en harde werk van die polisiediens verstaan. “My foon is nooit af nie en my foon sal nooit af wees nie, want ek is ’n stasiekommissaris,” verduidelik sy.

Ten spyte van die eise wat haar werk stel, probeer Fortuin so veel as moontlik gesinstyd in te pas. “Indien daar tyd is, bring ek dit saam met my kinders deur en ek probeer die tyd inhaal wat ek gemis het. Ek het nie eens ’n stokperdjie nie, want ek wil al my vrye tyd met hulle deurbring wanneer ek kan,” bieg sy.

Benewens haar familie en loopbaan is Fortuin se geestelike lewe haar ander prioriteit, “want sonder Hom kan ons niks doen nie”.

Fortuin sê sy is nou in die proses om met verskeie rolspelers soos die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum en buurtwagte te vergader om ’n daadwerklike verskil in Cloetesville te maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.