Wilma Josefs (46) se digbundel Hoop is deur die dood van haar man, Shawn, wat vroeër vanjaar gesterf het, geïnspireer. Foto:


’n Digter van Lanquedoc stel eersdaags haar eerste digbundel bekend en hoop om mense deur haar skryfwerk te bemoedig.

Wilma Josefs (46) se digbundel Hoop is deur die dood van haar man, Shawn, wat vroeër vanjaar gesterf het geïnspireer.

Dié ma van twee seuns en ’n dogter sê sy het die gedigte ’n maand ná haar eggenoot se afsterwe begin skryf.

“Dit was soos ’n uitlaatklep wat die seer en gemis kon beskryf,” voeg sy by.

Die bundel van altesaam 10 gedigte handel oor onderwerpe soos: nuwe hoop; oor haar kinders; haar gemeenskap, en die kosbaarheid van tyd.

“Ek wil die lesers aanmoedig om nie jouself in jou seer te verloor nie, maar om dit as ’n fondasie te omskep om ander te kan inspireer en te motiveer.

“Die skryfproses was emosioneel, maar tog ook bevrydend. Ek het twee maande gelede begin en het sover 10 gedigte geskryf,” voeg sy by.

Josefs is gebore en getoë in Simondium en het aan Kylemore Sekondêre Skool gematrikuleer.

You need to be Logged In to leave a comment.