Met jonger kinders in die huis, kan ’n ongeluk skielik gebeur.

Daarom is dit belangrik dat jy seker maak jou huis is ’n veilige plek waar die kans vir ’n kind om byvoorbeeld per ongeluk te brand, so min as moontlik is.

Personeel van die provinsiale departement van gesondheid en welstand is gereed om jou te help as ’n noodgeval ontstaan, maar voorkoming van brandwonde is belangriker.

Sowat 400 kinders word elke jaar vir erge brandwonde by ongevalle-eenhede by die departement se hospitale in Stellenbosch, die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg en Witzenberg behandel. Baie van dié brandwonde is as gevolg van warm vloeistowwe, soos wanneer ’n kind na ’n kokende ketel of beker water gegryp het of as warm vloeistof per ongeluk op ’n kind uitgestort is.

Beperk só die kans vir brandwonde in jou huis:
  • Draai potte en panne se handvatsels sodat ’n kind dit nie kan bykom nie;
  • Sit kerse en lampe op ’n plek neer waar kinders dit nie kan bykom nie. Onthou ook om die vlam uit te doof as jy daardie vertrek verlaat;
  • Sit jou koffie, tee of ander warm drankies op ’n plek neer waar ’n kind dit nie kan bykom nie;
  • As jy iets in die mikrogolf warm maak, maak die houer versigtig oop sodat die stoom jou nie brand nie. Leer jou kinders om dieselfde te doen wanneer hulle oud genoeg is;
  • Maak seker die kos het genoeg afgekoel voordat jy jou kind voer, en 
  • Kyk dat die elektriese koord van jou ketel buite bereik van kinders is.

Indien iemand ’n brandwond opgedoen het, hou die wond in lopende koue water vir ten minste 10 minute, en gaan na die naaste kliniek of hospitaal. Moet niks op die wond smeer nie, want dit hou die hitte binne-in die wond, wat skade vererger.

Indien jou klere aan die brand raak, rol op die grond om die vlamme te blus, en gaan hospitaal toe. Jy kan ook die ambulans by 10177 bel.

“Brandwonde kan ’n ernstige en blywende uitwerking op kinders hê – nie net laat dit fisieke skending nie, maar ook emosioneel,” sê Kathleen Lucas van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand. “Ons werk saam met talle rolspelers om ondersteuning te versterk wat ons plaaslik aan kinders met brandwonde bied, maar ons doen ’n beroep op die gemeenskap om elke huis so veilig as moontlik te maak.”

You need to be Logged In to leave a comment.