Is jy ’n diereliefhebber, of wou jy nog altyd ’n dier aanneem en hom ’n tuiste gee? Kom maak dan Saterdag 10 Desember tussen 10:00 en 13:00 ’n draai by die Simonsrust-winkelsentrum op die hoek van Helshoogte- en Cluverpad, Stellenbosch, in die parkeergebied voor Pet Food City Stellenbosch (PFCS) vir ’n diere- aanneem-dag.
As jy ’n hond of kat ontmoet wat jy graag sou wou aanneem of oppas, sal Mdzananda Animal Clinic (MAC) jou van die nodige vorms voorsien en ook ’n huisbesoek reël om seker te maak jou huis is geskik vir die dier.
Nadat die aanneem van die dier bevestig en alle vorms onderteken is, is daar ’n aannemingsfooi van R600 vir ’n hond en R850 vir ’n kat. Die groot voordeel hieraan verbonde is dat al hul inspuitings, sterilisasie en ’n micro-chip ingesluit is in dié aannemingsfooi.
“Ons hou dié aanneemdag, want dierebeskermingsorganisasies soos MAC sukkel met oorbevolking, wat maak dat hul kos gereeld opraak,” het Coryn Viljoen van PFCS verduidelil.
“Die doel van die aanneemdag is om MAC te help om plek te maak in hul beskermingseenheid en om plek te maak vir nog diere wat hulp nodig het en ook om te help om permanente huise te kry vir hul diere wat tans daar is.
“Met die aanneemdag hoop ons ons kan tien sakke hondekos 50 maak. En nog beter, permanente huise kry vir hul honde en katte.”
As jy iets by Pet Food City Stellenbosch koop en dit in Mdzananda Animal Clinic se donasieboks gooi, staan jy ook ’n kans om ’n prys vir jou eie diere te wen of jy kan jou prys vir MAC skenk.