Die departement van maatskaplike ontwikkeling (DSD) in die Somerset-Wes-omgewing is op soek na die familie van ’n man, vermoedelik in sy sewentigs, wat volgens inligting oorspronklik van Vlaeberg, Stellenbosch is.
Jacobus (Koos) Lotter, wat glo in 1946 gebore is, se geboorte is volgens owerhede nooit geregistreer nie. Om hierdie proses te voltooi en om aansoek te doen vir pensioen en ander voordele moet Koos se naasbestaandes gevind word.
Volgens inligting, soos deur Koos weergee is, is hy in die omgewing van Vlaeberg naby die stortingsterrein gebore. Sy ouers was Kerneels Davids en Linda Lotter. Kerneels het glo destyds by Pikkie Blommaert in Stellenbosch gewerk.
“Hy het ook glo twee broers, Kerneels Lottering, wat op ’n perdeplaas in Somerset-Wes-omgewing gewerk het, en Adonis Lottering, wat voorheen by 12 Verbenastraat in Sarepta, Kuilsrivier gebly het. Volgens hom het hy ook ’n seun, Thysie de Bruin, wat hy by Miena de Bruin gehad het. Miena is intussen oorlede,” sê Harry Links van die DSD.
Koos se familie, of mense met inligting oor sy familie, word versoek om die maatskaplike werkers Harry Links en Selome Crow by 021 840 3500 te kontak.