Die Stellenbosch-polisie het ’n 40-jarige man in hegtenis geneem in verband met ’n bomdreigement by die Universiteit Stellenbosch oor die naweek.
Volgens die Stellenbosch-polisiewoordvoerder, kapt. Nathalie Martin, het die polisie Saterdagoggend (4 Mei) omstreeks 09:00 ’n klagte van ’n bomdreigement op die Rooiplein in Merrimanlaan ontvang.
“Die polisie het dadelik aandag aan die klagte gegee en die perseel ontruim, asook die Neelsie-studentesentrum en die universiteitsbiblioteek. Die honde-eenheid sowel as die bom-eenheid is na die toneel ontbied,” het Martin bygevoeg.
Die US het die voorval bevestig en gesê die veiligheid van die kampusgemeenskap is soos altyd van kardinale belang en vinnige optrede het in ooreenstemming met standaard noodprotokol gevolg.
“Nooddienste het die gebiede deurgesoek en ons waardeer soos altyd hul doeltreffende diens,” het die US-woordvoerder Martin Viljoen gesê.
Ná verdere ondersoek het die polisie die besonderhede van die anonieme persoon wat die klagte aangemeld het nagevolg en ontdek dat die persoon (klaer) ’n mediese personeellid was wat by die universiteit se opedag ontplooi was. Die man is op die perseel in hegtenis geneem en ’n saak van bomdreigement is teen hom geopen.
Die US het Dinsdag by navraag gesê hy is verheug om te verneem dat ’n inhegtenisname gemaak is en dat die reg nou sy beloop moet neem.