Slegs dae nadat Harlene Meyer (49) in Pinestraat, Cloetesville, afgemaai is, het nog ’n skietery tot iemand se dood gelei.

Inwoners in White City in dié buurt is Sondag (30 Junie) weer geskok gelaat nadat ’n man (18) weens ’n skietwond in Davidsestraat omgekom het.

Volgens inligting was die oorlede van Macassar en is hy omstreeks 16:30 in ’n badkamer van ’n woning dood gevind. Dit is onbekend wat die motief vir die jong man se dood is.

Die voorval volg slegs dae nadat Meyer op pad werk toe in die kruisvuur van skieters beland het en oorlede is.

Na afloop van dié ma van drie se dood het lede van die gemeenskap ’n noodkreet aan die polisie sowel as die Stellenbosch-munisipaliteit gerig om meer te doen om die daaglikse misdaad hok te slaan.

Intussen het die DA se Leon Schreiber ’n brief aan lt.genl. Sehlahle Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gerig om in te gryp wat bendegeweld in Cloetesville betref.

Schreiber sê bykomende hulpbronne word deur die plaaslike polisie benodig. Hy voer ook aan die ontplooiing van vaardige speurders en ondersoekers is nodig om verdagtes op te spoor.

Hy maak ook melding van die Stellenbosch-munisipaliteit se aanbod vir grond om ’n nuwe polisiekantoor op te rig, wat die polisie glo van die hand gewys het.

“Ek verstaan ??dat die SAPD onder die mandaat van die nasionale regering val, maar dit beteken nie dat verskillende regeringsfere nie kan saamwerk in belang van veiliger gemeenskappe nie,” sê Schreiber.

“Die realiteit is dat die huidige polisiestasie nie meer die kapasiteit het om Cloetesville, Klapmuts en Khayamandi doeltreffend te bedien nie nadat dit die afgelope jare vinnige en volgehoue ??bevolkingsgroei beleef het.”

Sedert Meyer se dood is ’n petisie deur inwoners begin om te verseker die vier verdagtes wat in verband met haar dood in hegtenis geneem is, word borgtog geweier.

Inwoners sê die hof moet ’n duidelike boodskap stuur dat sulke misdrywe in ’n ernstige lig gesien word.

You need to be Logged In to leave a comment.