Talle plaaslikes het hul vrywillige 67 minute vir Mandela-dag (Vrydag 18 Julie) gebruik om ander van diens te wees en hul buurte op te knap.
In Khaymandi het Tony Sesman sy Mandela-dag gebruik om ou koeldrankbottels met herwinbare afval vol te maak. Volgens Sesman sal die bottels herwin word. Sy vrou, Winnie, het op haar beurt ‘n pot sop vir hul bure gemaak.
In die middedorp het die Universiteit Stellenbosch se regskliniek besluit om inwoners en werkers met warm sop en brood te bederf. ‘n Groep studente, gelei deur Magda Esau en Emily Anderson, het die maaltyd aan haweloses en werkers uitgedeel.
“Dit was nie net belangrik om vir die hawelose mense ‘n koppie sop aan te bied nie, want daar is ook soveel mense wat blyplekke het en ook dalk honger ly. Baie van die werkers is ook in die koue weer besig en ‘n bietjie sop is ‘n lekker bederf vir hulle ook,” sê Anderson.
In Idasvallei is pasiënte van die plaaslike kliniek met warm serpe bederf danksy die span van 67 Scarfs for Nelson Mandela Day. Allysa Smith van dié plaaslike groep sê die nasionale organisasie sonder winsbejag brei en hekel deur die jaar komberse vir pasgebore babas en bejaardes. “Vanjaar is ons groep se fokus die Stellenbosch-nagskuiling en ons het ook skenkings aan die Somerset-Wes-skuilings vir gesinne gegee,” vertel sy.
Die pasiënte van die Idasvallei-kliniek was in hul knoppies met hul serpe. Een pasiënt was so beïndruk met breiers soos Juanita Adams se handewerk dat hy beloof het om die organisasie in hul werk te ondersteun.
Die Stellenbosch-munisipali- teit se gemeenskapsontwikkelingspan het sy vrywilligers-minute in Groendal deurgebring.
Volgens Priscilla Napoleon, die koördineerder van gemeenskapsontwikkeling, het 200 inwoners mussies, sokkies en ‘n maaltyd gekry danksy die geleentheid wat in samewerking met Lord’s Acres Ministries en Feeding in Action aangebied is.
Sy het gesê die dag bewys hoe kragtig omgee kan wees.








You must be logged in to post a comment.