Die bekroonde digter Danie Marais se vierde bundel, Ek en jy bestaan nie, is binnekort op winkelrakke beskikbaar.
Die langverwagte bundel van die Stellenbosse digter bestaan uit gedigte wat openhartige en intieme gesprekke met die leser aanknoop – baie soos in sy vorige bundels. Dit word Maandag 3 Junie bekendgestel.
Hierdie keer gaan dit egter nie oor persoonlike verhoudings en morsige liefde nie, maar oor die ongemakke van ras en klas, en die maniere waarop die verlede die hede beïnvloed in ’n era van toenemende politieke ongeduld, paranoia en polarisering.
Dis ’n bundel oor die menslike middelklastoestand en die unbearable whiteness of being wat waag om eerlik te praat oor die dinge waaroor mense liefs stilbly in die voorstede van Stellenbosch waar ’n koue burgeroorlog stil in die boomryke strate woed.
Marais is in Kimberley gebore en het nege jaar in Noord-Duitsland gebly. Hy woon die afgelope 10 jaar in die Eikestad saam met sy vrou, Carine en hul twee kinders, Lea en Sam.
As hy nie aan ’n digbundel werk nie, werk Marais as vryskutjoernalis, taalpraktisyn, musiekskrywer en omroeper.
’n Uittreksel uit Ek en jy bestaan nie lees: “Deesdae voel ek in my derms op nagte soos dié
hoe luuks en sag die tuin om my lê hoe uitspattig
ons middelklastuinmeubels in die maanskyn skynheilig
kringetjie hou langs die blinkswart altaar
van die Weber
waaruit die rook van dooie diere
naweke krul maar die offers
geen gode meer behaag nie”
Kuier Donderdag 20 Junie saam by die bekendstelling by die V&A Waterfront se Exclusive Books om 18:00 vir 18:30. Marais sal ook later vanjaar by al wat ’n fees is, wees.