Mark in Dorpstraat moet nou sluit

,

Dit blyk uiteindelik dit was die rondslomp van burokrasie in die Stellenbosch-munisipaliteit wat die stigters van die Sunday Dorp Street Market uiteindelik die aftog laat blaas het in hul veldtog […]

Die Dorp Street Sunday-mark was 'n gewilde trekpleister vir Stellenbosch. Die mark is weens munisipale regulasies finaal gesluit.
Die Dorp Street Sunday-mark was ‘n gewilde trekpleister vir Stellenbosch. Die mark is weens munisipale regulasies finaal gesluit. Credit: Dorp Street Sunday Market/Facebook

Dit blyk uiteindelik dit was die rondslomp van burokrasie in die Stellenbosch-munisipaliteit wat die stigters van die Sunday Dorp Street Market uiteindelik die aftog laat blaas het in hul veldtog om die voortbestaan van hierdie gewilde mark te verseker.

Volgens Leani Breedt was die ses maande lange proses vir ‘n grondgebruik-permit onsuksesvol, hoewel sy in November 2024 ‘n geleentheidspermit van die munisipaliteit ontvang het. Dit het hulle in staat gestel om vier markte aan te bied.

“Die geleentheidskomitee het ons verseker dat dit ‘n permit is waarvoor ons eenvoudig elke kalenderjaar sal moet aansoek doen. Ons het in Januarie 2025 met dieselfde ‘resep’ aansoek gedoen en drie afsonderlike vergaderings met die komitee gehad. En toe, skielik, het hulle egter op 5 Maart laat weet hulle is nie die regte afdeling om mee te gesels nie en hulle kan nie help nie, want ‘n mark is nie ‘n geleentheid nie,” sê Breedt.

Die organiseerders moes toe terug na die departement vir grondgebruik en beplanning, wat hul permit vir die mark in die eerste geval afgekeur het.

Breedt, wat die mark in 2020 saam met Daneel Stone begin het, sê die uitdaging om die mark weer aan die gang te kry, het hulle laat besluit om liewer ‘n mark in die Kaapse metropool te open. Hulle meen egter aangesien hulle die afgelope dekades sake in die Eikestad gedoen het, is hulle nie gereed om heeltemal van die dorp afskeid te neem nie.

Benewens die gemeenskap en plaaslikes wat die mark geniet het, het die meer as 80 stalletjiehouers ook ‘n verhouding met hul gereelde klante opgebou. Die mark is aanvanklik deur wetstoepassingsbeamptes toegemaak. Hierna het ‘n maande lange proses begin om die mark weer terug te kry. Die munisipaliteit het egter aangevoer dit was ‘n klein, private inisiatief wat oor die afgelope jare na ‘n groot, formele mark op munisipale eiendom, sypaadjies en padreserwes geword het.

Stuart Grobbelaar, ‘n munisipale woordvoerder, sê die munisipaliteit moet verseker dat openbare ruimtes veilig, toeganklik en billik vir alle inwoners bestuur word. Hy sê talle van die regulasies wat openbare ruimtes beheer, word deur die provinsiale en nasionale regering opgestel en die munisipaliteit is wetlik verplig om dit na te kom.

“In Oktober 2024 is dit onder die munisipaliteit se aandag gebring dat die mark sonder die nodige goedkeuring op openbare eiendom bedryf word. Om tussentydse ondersteuning te bied terwyl alternatiewe plekke verken is, het die munisipaliteit ‘n drie maande tydelike permit uitgereik wat die mark in die Botaniese Tuin laat voortgaan,” sê hy.

“‘n Mark kan nie sonder goedkeuring opgerig word en dan word probeer om die toestande ná die tyd te reguleer nie. ‘n Billike en deursigtige openbare proses is nie gevolg nie en sakelui is nie ‘n kans gegun om in die openbaar [aan die gesprek] oor die mark deel te neem of kommentaar te lewer nie. Die terrein is ook nie vir dié doel aangewys nie.”

Breedt sê die ondersteuning vanuit die gemeenskap is ‘n bewys die mark is groter is as net markdae. Grobbelaar sê die munisipaliteit oorweeg ‘n aansoek vir ‘n formele mark in ‘n nuwe ligging, maar die mark-organiseerders moet nog sekere basiese vereistes nakom.

Categorised:,

You need to be Logged In to leave a comment.