Mark Zandberg, ’n gr.11-leerder aan Paul Roos Gimnasium, het van Woensdag 17 tot Saterdag 20 Augustus Suid-Afrika by die 2022 IMMAF MMA-jeugwêreldkampioenskap in Abu Dhabi verteenwoordig.
Die 16-jarige vegter het byna twee jaar gelede met die sport begin toe hy sy klub, Vector MMA en Fitness in Stellenbosch, uitgesoek het.
Onder leiding en aanmoediging van sy afrigter Erik Coetzee het dié inwoner van Somerset-Wes die Westelike Provinsie-span aan die begin van die jaar gehaal.
As lid van dié span verower hy ’n goue medalje en die titel van Suid-Afrikaanse o.18-weltergewigkampioen by die nasionale kampioenskap in Gauteng in Mei.
Mark is in Julie in die Protea-MMA-span ingesluit om sy staal vir SA teen die wêreld se beste vegters te wys. By die wêreldkampioenskap het hy sy eerste geveg teen Siim Viljus van Estonia gewen, maar sy deelname is kortgeknip as gevolg van dehidrasie tydens sy tweede geveg teen Christian Alexis Cruz Macias van Mexico.
Mark en sy 19 spanmaats het teen 41 lande en ’n totaal van 486 vegters gekompeteer om SA negende op die wêreldranglys te plaas.
Hy is nou meer vasbeslote, gemotiveerd en reeds besig met voorbereiding om aanstaande jaar na die wêreldkampioenskap terug te keer om goud vir Suid-Afrika te verwerf.