Matao le Roux en sy trotse ma, Maeve Jonkers, ná sy wensprong van 2.10 m op die onlangse ASA-kampioenskap in die Groenpunt-stadion in Kaapstad.

Van hoogspring kan ‘n mens Matao le Roux van Caledon min vertel, want dié 16-jarige atleet, wat al sedert sy laerskooldae aan hoogspring deelneem, ryg die medaljes behoorlik in en het al talle rekords agter sy naam.

Matao, ‘n leerder aan die Hoërskool Stellenbosch, het op die Atletiek Suid-Afrika (ASA) junior kampioenskap, wat van Donderdag 27 tot Saterdag 29 Maart in die Groenpunt-stadion in Kaapstad gehou is, sy beste vertoning nog gelewer deur die o.18-mansafdeling met ‘n allemintige hoogte van 2.10 m te wen en sodoende die Suid-Afrikaanse kampioen in die betrokke ouderdomsgroep te word.

Skaars ‘n week later het Matao die afgelope Saterdag (5 April) in Bloemfontein op die Suid-Afrikaanse hoërskolebyeenkoms die o.17-hoogspring met ‘n hoogte van 1,98 m gewen – ten spyte van ‘n besering.

“Ek is in my noppies met my sprong van 2.10 m tydens die ASA-kampioenskap. Ek het baie hard daarvoor geoefen en dit is ‘n persoonlike beste vir my,” het Matao aan Eikestadnuus gesê.

“Ek het ‘n kuitbesering by ‘n oefensessie in Bloemfontein opgedoen, wat nogal baie seer was, maar ek het steeds hard gedruk vir ‘n eerste plek en onder die omstandighede is ek tevrede met my wenhoogte.”

Maeve Jonkers, Matao se ma, is baie trots op haar seun en sy prestasies.

“Ek het sommer begin huil toe hy die 2.10 m gespring het,” het die trotse ma gesê. “Ook sy vertoning in Bloemfontein was iets om op trots te wees.”

Matao is sedert die begin van die skooljaar ‘n leerder aan die Hoërskool Stellenbosch nadat hy ‘n beurs van Endurocad, ‘n organisasie sonder winsbejag, ontvang het.

Dié organisasie spits hom toe op die atleet se ontwikkeling op persoonlike, sport- en akademiese gebied.

Dat dít vrugte afgewerp het, is deur Matao se onlangse puik prestasies bewys.

You need to be Logged In to leave a comment.