Mitzi Buys
Matao le Roux het Woensdag 16 Julie as lid van die Suid-Afrikaanse junior atletiekspan, wat aan die CAA o.18- en o.20-kampioenskap in Abeokuta, Nigerië, deelgeneem het, ‘n goue medalje losgespring.
Hy het sodoende die Afrika-hoogspringkampioen danksy ‘n allemintige sprong van 2,06 m geword.
Hoewel Matao net 16 jaar oud is, het hy in die o.18-afdeling deelgeneem.
“Ek is baie trots op myself en voel baie tevrede omdat ek nou die African champ is,” sê Matao oor sy goue medalje.
“Ek het voor die kompetisie wel ‘n bietjie getwyfel, maar in die kompetisie self het ek my mindset verander en sodoende geslaag.”
Matao neem al sedert graad vyf in sy dae by Swartberg Primêr in Caledon aan hoogspring deel. By die Hoërskool Overberg, waar hy skoolgegaan het voordat hy ‘n beurs vir die Hoërskool Stellenbosch losgespring het, het hy ook rugby gespeel, maar deesdae spits hy hom op hoogspring toe.
Matao se ma, Maeve Jonkers, sê sy is baie trots op hom.
“Matao se harde werk en deursettingsvermoë het vrugte afgewerp . . . Ek wil net dankie sê aan God vir my seun se talente. Deur Hom is alles moontlik. Dankie ook aan my familie wat ons ondersteun en my dank ook aan sy afrigter, Heinrich Fortuin, wat hom vanjaar afgerig en toegesien het dat hy deur die 2 m-grens breek. Ek weet Matao wou graag sy persoonlike beste van 2,10 m ewenaar, maar 2,06 m het hom ook goud laat wen. Dankie aan ‘n ieder en ‘n elk wat die geldinsameling ondersteun het, asook elkeen wat ‘n bydrae gegee het.”
Fortuin, Matao se afrigter sedert die begin van die jaar, sê hy het verwag dat Matao gaan wen “omdat hy hierdie jaar baie verbeter het”.
“Hy het die talent en alles wat dit verg om ‘n kampioen te wees. Ek is regtig baie trots op hom.”
Op ‘n vraag of Matao se oefenprogram aangepas is, sê Fortuin: “Matao hou nie van hardloop nie, maar ek het hom baie meer laat hardloop. Ons het aan sy spoed, sy aanloop en sy vastrap gewerk. ‘n Mens wil nie te veel te vinnig aan sy natuurlike talent verander nie. Iets wat min mense weet, is dat ek, nes Matao, ‘n Caledonner is en ook ‘n leerder aan die Hoërskool Overberg was. Ons het ook by dieselfde hoogspring-afrigter, Réleen Swart, geoefen, maar natuurlik in verskillende jare. Ons het ‘n baie soortgelyke atletiekreis gehad. Dit is ‘n bestiering dat ons mekaar nou hier in Stellenbosch ontmoet het.”
Oor wat die toekoms vir Matao kan inhou, sê Fortuin: “Hy het vanjaar met leaps and bounds verbeter. As hy kophou en aanhou hard werk, kan hy ‘n loopbaan hieruit maak en is die 2028-Olimpiese Spele ‘n moontlikheid.”
In ‘n onderhoud met Making of Champions, ‘n Nigeriese sporttalent-agent- skap, sê Matao die voormalige Olimpiese hoogspringkampioen van Katar, Mutaz Barsham, is sy rolmodel.
Hy sê ook hy dra sy goue medalje aan sy ma op, “want sy is die beste en my grootste ondersteuner”.


