Hoër Meisieskool Bloemhof se netbalspanne beleef tans ’n besonderse bloeitydperk.
Hoewel die seisoen nog maar by die halfpadmerk is, het al vier die deelnemende Bloemhof-spanne reeds deurgedring na die nasionale finale van die Topskole-netbaltoernooi.
Dat nie minder nie as ses spelers van Maties se eerste netbalspan by die skool afrig, kan moontlik die rede hiervoor wees.
“Dis wonderlik om by my alma mater af te rig, want ek kan dit wat ek geleer het, weer terugploeg en help om jong talent te ontwikkel,” sê Jo Prins, ’n oud-Bloemhoffer en tans kaptein van Maties se eerste netbalspan.
Vier van Bloemhof se netbalspanne het onlangs by provinsiale uitspeelrondes van die Topskole-netbaltoernooi deurgedring na die finaal. Die o.14- en o.18A-span het al hulle wedstryde gewen, terwyl die o.16- en o.17A-span slegs een wedstryd verloor het.