Luther Chipembere, ‘n doktorale student in landbou-ekonomie en kunsmatige intelligensie (KI) aan die Universiteit Stellenbosch (US), het ‘n merkwaardige prestasie behaal toe hy onlangs as FameLab Suid-Afrika se 2025-kampioen gekroon is.
Met hierdie prestasie het Chipembere die eerste US-deelnemer geword wat hierdie gesogte prys wen.
Hy is by ‘n geleentheid in Pretoria, wat deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Wetenskap- en Tegnologiebevordering en Jive Media Africa aangebied is, as wenner aangewys.
FameLab, wat ook ‘n ontwikkelingsinisiatief is, word as een van die grootste wetenskapkommunikasie- en redenaarskompetisies ter wêreld beskou en skep ‘n platform vir jong ontluikende wetenskaplikes om met openbare gehore oor hulle werk te praat.
Chipembere, wat ook ‘n administrateur by die Afrika- doktorale akademie by die Sentrum vir Kapasiteitsontwikkeling in Afrika by US Internasionaal is, het gesê om die nasionale FameLab-kampioen te word, is verootmoedigend.
“Dit wys dat navorsing vir mense buite die mure van navorsingsinstellings saak kan maak en dat idees oor voedsel en tegnologie waarde in die samelewing het. Vir my is dit ʼn aanmoediging om aan te hou om wetenskap te verbind met die mense vir wie dit bedoel is om te dien.”
Chipembere, wat ook ‘n administrateur by die Afrika- doktorale akademie by die Sentrum vir Kapasiteitsontwikkeling in Afrika by US Internasionaal is, sê om die nasionale FameLab-kampioen te word, laat hom nederig voel. “Dit toon dat navorsing vir mense buite die mure van navorsingsinstellings kan saak maak en dat idees oor voedsel en tegnologie waarde in die samelewing het. Vir my is dit aanmoediging om aan te hou om wetenskap te verbind met die mense wat dit veronderstel is om te dien.”
Hy voeg by dat dit ‘n eer was om die US by FameLab SA te verteenwoordig. “Om die eerste van die US te wees om die nasionale titel te wen, maak dit in geskiedkundige prestasie, maar ook ‘n verantwoordelikheid om deure te open vir ander wat sal volg. Dit is meer as persoonlike trots en voel soos ‘n kollektiewe mylpaal wat deur mentors, kollegas en ondersteuners gevorm is.”
Chipembere se doktorale studie pas KI en strategiese vooruitskouing op wêrelduitdagings toe, waaronder voedselonsekerheid en versiendheid wat insigte genereer wat beleid en die praktyk inlig.
“ZeroHonger is ‘n wêreldwye gedeelde ambisie wat die rol van voedsel in die beskerming van menswaardigheid erken. My navorsing is op hierdie begrip gesentreer en lewer ʼn bydrae deur KI gedrewe ontleding te gebruik om voedselproduksie te monitor en vroeë waarskuwingstekens van stres binne voedselstelsels na te speur.”
Chipembere ontwikkel masjienleermodelle wat oesopbrengste vooraf kan voorspel met behulp van satellietbeelde, klimaatdata en huishoudelike voedselopnamedata en genereer sodoende vroeë seine van stres binne voedselstelsels. Hierdie seine gee boere tyd om aan te pas, bied regerings tyd om skokke te versag en veerkragtigheid te ondersteun, en gee gemeenskappe ook tyd om kwesbare huishoudings te beskerm. Op hierdie manier omskep sy werk data in versiendheid en help dit ons om ons nader te bring aan die verwesenliking van ZeroHonger – die Verenigde Nasies se doelwit vir volhoubare ontwikkeling om teen 2030 hongerte te beëindig, voedselsekerheid te bereik, voeding te verbeter en volhoubare landbou te bevorder.
Op die vraag waarom wetenskaplikes hul navorsing aan die publiek moet kommunikeer, sê Chipembere die wetenskap vervul sy doel wanneer dit verstaan en gebruik word. “Kommunikasie met die publiek bou vertroue, maak kennis toeganklik en nooi mense om aan gesprekke wat hulle lewe raak, deel te neem. Dit gaan daaroor om mense te ontmoet waar hulle is en kommunikasie te gebruik om hulle te lei na waar hulle moet wees.”
Chipembere sal Suid-Afrika in November by die internasionale FameLab-kompetisie by CERN (Europese Organisasie vir Kernnavorsing) in Genève, Switserland, verteenwoordig.


