Universiteit Stellenbosch (US) het gisteraand in ‘n persverklaring bekend gemaak ‘n geval van verkragting is by die universiteit aangemeld.
Luidens die verklaring is ‘n vrouestudent in Februarie in die vroeë oggendure buite die Harmonie-vrouekoshuis verkrag.
Die student is deur die distriksgeneesheer ondersoek en behandel, en die Universiteit se Krisisdiens het sy bystand aangebied.
Die saak word deur die SAPD se Eenheid vir Seksuele Oortredings ondersoek, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Eikestadnuus het in Februarie navraag oor die beweerde verkragting van ‘n vrouestudent by die SAPD gedoen, maar hulle was nie bewus van enige voorvalle nie.
Prof. Wim de Villiers, die US se rektor en visekanselier, het sy ontsteltenis oor die voorval uitgespreek.
“Seksuele wangedrag van enige aard is verwerplik, en ons doen ‘n ernstige beroep op die polisie om seker te maak dat hierdie voorval deeglik ondersoek word sodat geregtigheid kan geskied. Gebeure soos dié is baie traumaties, en spekulasie in die sosiale media vererger net die situasie.”
Hy sê die universiteit streef ‘n veilige omgewing vir alle studente en personeellede na.
“Die US het kampusveiligheid die afgelope paar jaar opgeskerp, maar omstandighede verander voortdurend. Boonop gaan dit nie net oor veiligheidsmaatreëls nie, maar oor die psige van ons samelewing.
“Die besef moet insink dat vernederende opmerkings, seksuele teistering, en om vir vroue te fluit en seksuele aanmerkings te maak nie aanvaarbaar is nie. Ons moet mekaar almal met respek behandel.”