Niks sal die jong Jesse Mitchell terugbring nie, maar sy familie hoop sy moordenaar gebruik sy tyd in die tronk om homself te verbeter.

Dít was die woorde van Mitchell se grootouers en oom Maandag 3 November nadat Rudolf Hufke (20) tot lewenslange tronkstraf gevonnis is vir dié eerstejaarstudent van die Universiteit Stellenbosch se moord verlede jaar.

Hufke het in ‘n pleit-en-vonnis-ooreenkoms met die staat skuld beken aan die moord en roof met verswarende omstandighede op die Matie op 16 Oktober 2024, sowel as die roof van Sikho Matimba, die dag voor Mitchell se moord.

LEES OOK: Lewenslank vir Matie-moord

Jesse Mitchell se oupa Alan, oom Kevin en ouma Christina Mitchell Maandag in die Stellenbosch-landdroshof. Foto: Yaël Malgas
Jesse Mitchell se oupa Alan, oom Kevin en ouma Christina Mitchell Maandag in die Stellenbosch-landdroshof. Foto: Yaël Malgas

DIE MISDAAD

Die ondersoekbeampte, speursers. Kelvin Moses, het Maandag in die Stellenbosch-streekhof verduidelik hoe Hufke Mitchell vermoor het, terwyl die student se laaste oomblikke op kringtelevisiebeeldmateriaal uitgespeel het.

Mitchell was net voor 03:00 op die oggend van sy 19de verjaarsdag op sy elektriese fiets in Jan Cilliersweg onderweg. Hufke was reeds in die straat waar hy agter twee stappers geloop het.

Mitchell het aankomend na Hufke beweeg en op die beeldmateriaal kan gesien word hoe Hufke na Mitchell loop en hom in die nek steek.

Mitchell het ná die steek steeds aanhou ry. Hy het dit tot in Borcherdstraat, steeds op sy fiets, gemaak, waar hy teen die sypaadjie gebots en neergeval het.

Op dieselfde beeldmateriaal kan gesien word hoe Hufke gemaklik en sonder haas na Mitchell stap, hom deursoek, sy rugsak gryp en dan weghardloop. Geen van die twee motors wat verby die toneel gery het, het gestop nie.

LEES OOK: Jesse Mitchell-moordsaak: Hufke sê hy wil skuld beken

Rudolf Hufke (20) Maandag in die Stellenbosch-streekhof.
Rudolf Hufke (20) Maandag in die Stellenbosch-streekhof.

Mitchell se grootouers, Christina en Alan, sê hulle vind vertroosting in die beeldmateriaal, omdat Mitchell so vinnig dood is en nie gely het nie.

Hufke is kort na Mitchell se dood deur die Stellenbosch-polisie in hegtenis geneem.

Moses bedank veral sy speurder-kollega Roger Jooste en die plaaslike misdaadsvoorkomingspan vir hul hulp met die saak.

“Dankie ook aan die lede van die gemeenskap wat dit maklik gemaak het om die oortreder te identifiseer. Indien ons meer van hierdie soort hulp kan kry, kan ons meer slagoffers help om afsluiting [ná misdrywe] te kry,” het Moses gesê.

Hy het ook die veiligheidsmaatskappy ABC Security vir hul bystand bedank en gesê daar was geen probleme om die deurslaggewende beeldmateriaal te kry nie.

LEES OOK: Matie se steekmoord wek kommer oor veiligheid in Stellenbosch

Benewens die beeldmateriaal is ‘n mes ook op die toneel gevind. Moses sê hierdie mes kon deur middel van DNS-toetse en vingerafdrukke met die moord verbind word.

Moses vermoed Hufke het die mes per abuis in Borcherdstraat laat val.

Volgens Hufke se verklaring was hy daardie aand uit om mense te beroof. Net die vorige dag het hy en ‘n makker vir Matimba, ‘n werker van die US, van sy rugsak beroof. Hufke het Matimba aanvanklik met ‘n mes gedreig.

Sy makker het die hasepad gekies en toe Matimba nie wou prysgee nie, het Hufke hom met ‘n klip in die gesig geslaan. Hierna het Hufke met Matimba se rugsak gevlug. Hierdie misdryf was die derde klagte teen Hufke.

Volgens die hof het Hufke met opset uitgegaan om mense te beroof. Terwyl Mitchell met sy studies gepoog het om ‘n bydraende lid van die samelewing te word, bied Hufke niks, het die hof gesê.

Dié Cloetesviller is vir die moord lewenslank gevonnis en 15 jaar vir elk van die rooftogte met verswarende omstandighede. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

MITCHELL-FAMILIE

Mitchell se oom, Kevin, het gesê die verlange na hom sal nooit kwyn nie, maar die familie werk om aan te beweeg. Christina sê haar kleinseun se universiteits- en kerkvriende was veral ondersteunend en het die afgelope jaar baie gedoen om sy lewe te eer.

Die familie sê hul hoop is dat Mitchell se dood die universiteitsgemeenskap sal aanspoor om die veiligheid van studente hoog te ag.

“Studente en hul ouers moet besef die dorp is soos enige ander in die land en loop onder misdaad deur. Wat met Jesse gebeur het, is ‘n weerspieëling van Suid-Afrika se uitdagings waar daar diegene is wat het en ander wat nie het nie. Dit is belangrik dat studente hierdie konteks verstaan,” meen Kevin.

Die US-studenteraad het vroeër vanjaar ‘n veiligheidsimbizo gehou in die hoop om meer studente te kry om proaktief vir hul eie veiligheid op te tree. Veiligheid saans is veral uitgelig.

Studente kan kampusveiligheidsbeamptes vra om hulle na hul motors te vergesel en ‘n uitgebreide nagpendeldiens is van 18:00 tot 06:00 beskikbaar vir diegene wat dit nodig het.

“Hoewel geregtigheid geskied het, sal niks Jesse weer terugbring nie. Ons is egter dankbaar vir die puik werk van sers. Moses en die staatsaanklaer [William da Grass] wat so hard gewerk het om die saak af te handel.

“Almal van die polisie tot die plaaslike buurtwag het gehelp. My grootste hoop is dat veiligheid en sekuriteit in Stellenbosch verskerp word,” het Jesse se oupa, Alan, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article