Misdaad en veiligheid blyk op Stellenbossers se lippe te wees ná die dood van die eerstejaarstudent Jesse Mitchell.
Rudolf Hufke (19) het Maandag (20 Oktober) alleen in die Stellenbosch-hof verskyn waar hy sy borgtogaansoek laat vaar het. Hufke word verdink van die roof en moord op Mitchell, wat Woensdag 9 Oktober om 03:00 op sy 19de verjaarsdag in Borcherdstraat op sy fiets onderweg was.
Die vermoede is Mitchell is van sy rugsak en fiets beroof, in die nek gesteek en vir dood gelaat.
’n Sekuriteitswag het glo later die oggend op die Universiteit Stellenbosch (US)-student se liggaam afgekom.
Hufke is verlede Woensdag (16 Oktober) in verband met die voorval in hegtenis geneem en die volgende dag is nog drie verdagtes in Cloetesville aangekeer. Dié drie, onder wie ’n vrou, het nie Maandag in die hof verskyn nie.
By navraag het die Stellenbosch-polisie gesê die drie verdagtes is vrygelaat ingevolge ’n SAP-328-vorm, wat beteken hulle kan steeds vervolg word indien die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) dit goeddink.
Rio Fisher, wat saam met Mitchell in Nooitgedacht gewoon het, sê hoewel hy en Mitchell nie baie na aan mekaar was nie, het sy dood gewis die universiteitsgemeenskap geruk.
Die inwoners van Nooitgedacht beoog om vandag (Donderdag) ’n private gedenkdiens vir hom te hou terwyl daar sprake is dat Mitchell se gesin vandeesweek na Stellenbosch sal reis.
Mitchell se ma, Michelle, het vroeër aan die media gesê sy is nie gereed om die beskuldigdes te sien nie en beplan dus nie om hofverrigtinge by te woon nie.
Intussen het inwoners van onder meer die Niche, EDGE, Plumbago, Boschenpark, Dennebosch en Melrose Square ’n petisie begin om die Stellenbosch-munisipaliteit aan te moedig om misdaad in die dorp aan te pak. “Die afgelope drie jaar was daar talle voorvalle van roof, aanranding en ander misdadige aktiwiteite wat ons gemeenskap raak, wat ’n omgewing van vrees en kommer skep.
“Terwyl private sekuriteitsfirmas gepoog het om veiligheid te bied, is hul werksgebied beperk, wat openbare ruimtes – waar baie voorvalle voorkom – kwesbaar en onbeskerm laat,” meen hulle.
Dié groep voer aan groter polisie- teenwoordigheid, beter straatligte en samewerking tussen die US, die munisipaliteit en private sekuriteit is nodig om die studente te help beveilig. Dit is ook in die lig van die ontvoering van ’n vrouestudent vandeesmaand.