Die 20-jarige Matie Dylan Georgiades het aan sy beserings beswyk nadat hy Saterdag in Merrimanlaan omgery is.Foto:

Credit: SYSTEM

Die Universiteit Stellenbosch (US) is in rou gedompel weens die sterfte van ’n tweedejaar-BCom-student nadat hy Vrydag (10 Februarie) deur ’n voertuig in Merrimanlaan raakgery is.

Die 20-jarige Matie, Dylan Georgiades, het Saterdag (11 Februarie) aan sy beserings beswyk.

Luidens ’n polisieverslag is Georgiades Vrydag kort ná 22:00 raakgery en na die Stellenbosch-hospitaal geneem. “Hy is later na die MediClinic Vergelegen oorgeplaas, waar hy aan sy beserings beswyk het,” het die polisiewoordvoerder kapt. Nathalie Martin gesê.

“Ons hart gaan uit na die vriende en familie van die student,” het prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier vir leer en onderrig aan die US, gesê.

“Die dood van ’n student is altyd moeilik vir die universiteitsgemeenskap en des te meer hartseer aangesien studente Maandag met klasse begin,” het hy bygevoeg.

Ramjugernath het bygevoeg groot waardering bestaan vir die ondersteuning wat van die nooddienste ontvang is, insluitend dienste wat deur die Stellenbosch-hospitaal en die Mediclinic Vergelegen gelewer is, asook die bystand van die universiteit se kampussekuriteit.

Enige student wat berading benodig, word aangemoedig om die US se 24-uur-krisisdiens te kontak by 010 205 3032 na-ure en 021 808 4994 gedurende kantoorure.

Martin het gesê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek, maar niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. . Enigiemand met meer inligting oor die voorval word versoek om die Stellenbosch-polisie by 021 809 5000 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.