Raadslid Dirk Swart (Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit), Charl du Toit, Liezel Gouws, Kerwin Noemdo en Keagan van Aarde (sportbestuurder: Maties Atletiek). Voor is Wentzel Barnard (Sportbestuurder: Maties ParaSport).Foto: Francois Lombard


Die Winelands International, ’n geakkrediteerde atletiekbyeenkoms vir para-atlete, het Saterdag 26 Februarie op Coetzenburg plaasgevind.

Hierdie byeenkoms, wat ook op Wêreld Para-Atletiek se kalender verskyn, is ’n eerste in sy soort, naas die jaarlikse Nasionale Kampioenskap vir Persone met Gestremdhede, en eerste in die Wes-Kaap.

“Maties ParaSport en die streek se sportliggaam, die Cape Winelands Sport Association for Physical Disabled, is die dryfkrag agter hierdie inisiatief. Daar is baie opgewondenheid oor die byeenkoms se potensiaal en toekoms,” het Wentzel Barnard (Sportbestuurder: Maties ParaSport), gesê.

Barnard sê dit sal aan plaaslike atlete die kans gee om met hul afstande en tye op die internasionale ranglyste te kom, sonder om na die buiteland teen hoë koste te reis.

Verskeie atlete wat aan die 2020 Paralimpiese Spele in Tokio deelgeneem het, soos Zanele Situ, Anika Pretorius, Liezel Gouws, Daniel du Plessis, Jonathan Ntutu, Charl du Toit, Kerwin Noemdo en Tyron Pillay was ook Saterdag in aksie.

Op die veld was die aksie net so warm soos die 35 °C-dag met Afrika-rekords in die staande diskus vir Mandilene Hoffman F44 (30.66 m) en Yane van der Merwe F44 (30.63 m), albei van Gauteng, asook Kerwin Noemdo (Maties) in die gewigstoot (15.92 m) klas F46.

Prysgeld was op die spel vir die top-drie algeheel beste prestasies van die dag, bereken met die Raza-puntestelsel wat deur Wêreld Para-Atletiek gebruik word om resultate van baan- en veld-uitslae te vergelyk om die beste prestasie te bepaal. Liezel Gouws (NWU) was die algehele wenner met Charl du Toit (Maties) tweede en Kerwin Noemdo (Maties) in die derde plek

“Sonder die twee hoofborge Spar en die Wes-Kaapse Departement Kuns, Kultuur en Sport en ’n paar kleiner borge sou hierdie byeenkoms nie moontlik gewees het nie,” sê Barnard.

You need to be Logged In to leave a comment.