Die Universiteit Stellenbosch (US) het in vier van die vyf prestasie-aanwysers wat gebruik is om die 2024- Times Higher Education- (THE-) wêreldranglys op te stel, verbeter. Die jongste ranglys is verlede Woensdag (27 September) vrygestel.
Die plaaslike instelling beklee die derde agtereenvolgende jaar die tweede plek op die ranglys vir 2024, die 20ste uitgawe van die ranglys. Altesame 1 904 instellings verskyn op die lys, wat ’n nuwe rekord is. Verlede jaar is 1 799 universiteite vir die ranglys beoordeel.
“Die US se verbetering in vier van die vyf aanwysers getuig nie net van ons navorsers se voortgesette hoëvlakbydrae tot die wêreldwye wetenskaplike kennispoel nie, maar ook tot onder meer die belangrike gebiede van bedryfskakeling en internasionaliseringsinisiatiewe,” het prof. Hester Klopper, die US se viserektor vir strategie, globale en korporatiewe sake, verduidelik.
“Afgesien van die feit dat al meer universiteite jaarliks beoordeel word – en ’n universiteit se stand in die bandposisie op die ranglys beïnvloed – moet ’n mens ook daarop let dat universiteite in Afrika se sosiale, ekonomiese en politieke kontekste hemelsbreed van dié van universiteite in hoë-inkomste-lande verskil. Daarom is die US se voortgesette teenwoordigheid op gevestigde ranglyste soos die THE-wêreldranglys ’n merkwaardige prestasie.”
Die THE-wêreldranglys is die voorste wêreldwye prestasielys wat navorsingsintensiewe universiteite in al hul kernmissies, naamlik onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale vooruitsigte, beoordeel.
Hoewel die prestasie-aanwyser sedert verlede jaar verander het, word dit steeds in vyf afdelings verdeel – onderrig (die leeromgewing); navorsingsomgewing (volume, inkomste en reputasie); navorsingsgehalte (impak van sitasies, navorsingskrag, -uitnemendheid en -invloed); internasionale vooruitsigte (personeel, studente en navorsing); en bedryf (inkomste en patente).
Afgesien van die styging in die US se algehele telling, het die instelling ook sy plek op die aanwysers vir bedryfsinkomste, internasionale vooruitsigte, navorsing en onderrig verbeter. Die grootste verbetering was in die bedryfsinkomstetelling wat met 26,5% gestyg het. Dié styging het die bedryfsinkomstetelling van 71 in 2023 tot 89,9 verbeter – die hoogste van alle Suid-Afrikaanse universiteite in die 168ste plek.
Volgens die THE-wêreldranglys kyk die bedryfsinkomste-aanwyser na ’n universiteit se vermoë om die bedryf met vernuwings, uitvindings en konsultasie te ondersteun. Hierdie meting poog om ’n instelling se kennisoordragaktiwiteite te meet deur die hoeveelheid navorsingsinkomste wat dit verdien, op ’n skaal teen die aantal akademiese personeel wat by die instelling in diens is, te meet. Dit dui ook aan tot watter mate die sakewêreld bereid is om vir navorsing te betaal en ’n universiteit se vermoë om finansiering uit die handelsmark te lok – wat nuttige aanwysers van institusionele gehalte is.
Die US se telling in die afdeling vir internasionale vooruitsigte het van 54 tot 59,9 verbeter en die navorsingstelling van 36,9 tot 39,6, terwyl die onderrigtelling van 30,5 tot 33,8 geklim het.
Die aanwyser vir internasionale vooruitsigte meet ’n universiteit se vermoë om voorgraadse en nagraadse studente en akademici van oor die wêreld heen te lok. Die navorsingsgehalte-pilaar kyk na universiteite se rol in die verspreiding van nuwe kennis en idees, terwyl die onderrigaanwyser ’n idee gee van ’n instelling se toewyding aan die opvoeding van die volgende geslag akademici.
Die US was die afgelope paar jaar konstant onder die beste tersiêre instellings in die wêreld op wêreldranglyste soos dié van Quacquarelli Symonds (QS), die Times Higher Education se ranglys vir ontluikende ekonomieë, die Academic Ranking of World Universities (akademiese ranglys van internasionale universiteite, ook bekend as die Shanghai-wêreldranglys) en die Center for World-universiteitswêreldranglys.
Vanjaar was die US ook onder die voorste hoëronderwysinstellings op die QS-wêreldranglys vir universiteite, die QS-wêreldranglys volgens vak en die Shanghai Ranking Consultancy se ranglys vir internasionale universiteite.