Die wenners van die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys (EOHO) se Entrepreneurskap Intervarsity 2024-kompetisie is Chiedza Vushe (US), Jordan Parker (Universiteit van Kaapstad), Robyn Truter (US) en Alexandra Lutz (US). Foto: Ignus Dreyer


Drie studente van die Universiteit Stellenbosch (US) was wenners in die Wes-Kaapse streekronde van die Entrepreneurskapontwikkeling in Hoër Onderwys (EOHO) se Entrepreneurskap Intervarsity 2024-kompetisie.

Robyn Truter, die stigter van Report Buddy, Alexandra Lutz, die stigter van die aanlyn leerplatform Milani Education, en Chiedza Vushe, die stigter van die fotografie-onderneming FineApplePixels, is onder die vier Wes-Kaapse studente wat in November in Johannesburg by finaliste van ander universiteite oor die land heen sal aansluit wanneer die kategoriewenners, nasionale Student-entrepreneur van die Jaar en die wen-universiteit aangekondig sal word.

Die US het onlangs vir die eerste keer die EOHO-streekronde aangebied, waar van die Wes-Kaap se slimste jong denkers van die Universiteit van Kaapstad, die Universiteit van Wes-Kaapland, die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie en die US hul potensiaal getoon het om Suid-Afrika se ekonomiese groei te beïnvloed.

Die kompetisie bestaan al ses jaar, word deur die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsprogram gefinansier en word in vennootskap met die Allan Gray Orbis-stigting en die SAB-stigting aangebied. Die streeksgeleentheid is moontlik gemaak deur finansiering van prof. Stan du Plessis, die US se uitvoerende bedryfshoof, asook prof. Sibusiso Moyo, die US se adjunk-visekanselier vir navorsing, innovasie en nagraadse studies.

Met die opening van die streeksgeleentheid het prof. Eugene Cloete, uitvoerende hoof van die Kaapse Hoër Onderwyskonsortium en voormalige adjunk-visekanselier van die US, die deurslaggewende rol van entrepreneurskap in die aanpak van maatskaplike uitdagings benadruk. Met jeugwerkloosheid wat in 2024 tot 46,5% gestyg het, is dit nie meer ’n lekker opsie om entrepreneurskap onder studente moontlik te maak nie, maar het dit ’n noodsaaklikheid geword, het hy gesê.

Die hoofsprekers was dr. Wessel Myburgh, medestigter van Urobo Biotech, ’n US-afwentelmaatskappy, en Noku Katom, ’n reeksentrepreneur en ’n mentor by US LaunchLab. Hulle het insigte uit hul entrepreneurskapsreise gedeel en praktiese raad en inspirasie aan deelnemers gebied.

Prof. Deresh Ramjugernath, adjunk-visekanselier vir leer en onderrig by die US, het deelnemers geprys dat hulle die geleentheid gebruik het om ’n entrepreneurskapsingesteldheid te ontwikkel. “Die reis as entrepreneur is nie maklik nie. Jy het veerkragtigheid en geloof in jouself nodig. Moenie moed opgee as jou eerste idee nie werk nie, hou aan probeer al misluk jy.”

Hy het bygevoeg dat kompetisies soos die EOHO ’n belangrike rol speel om gegradueerdes vir die lewe ná universiteit voor te berei. “Universiteite bestaan nie net om gegradueerdes te lewer wat werk sal kry nie. Universiteite moet ook gegradueerdes lewer wat werk kan skep. Dit is wat ons nodig het om die ekonomie te laat groei.”

Die US se studente-entrepreneurs het sedert April nou saam met die US se LaunchLab-span gewerk om hul ondernemings te ontwikkel. Hulle is ingeskryf vir die ResNova-program, ’n intensiewe opleidingsessie oor ses weke wat op kritieke vroeë-stadiumbehoeftes van beginner-ondernemings fokus.

Truter, wat Report Buddy vier jaar gelede as gr.11-leerder begin het, sê die wen van die streekronde het haar oortuiging bevestig dat haar maatskappy “regtig groot potensiaal het”. Report Buddy het tot stand gekom toe Truter se ma, ’n neurosielkundige, gekla het oor hoe lank dit neem om ’n neurosielkundige verslag op te stel – minstens 20 uur.

En heelwat van hierdie verslagskrywing is herhalend. “Ek het my ore gespits toe ek dit hoor en het nog ’n paar vrae gevra.”

Truter het haar destydse beginnerkennis van kodering toegepas om ’n oplossing te vind en so die konsep gevorm vir Report Buddy, ’n tydbesparende program waarin pasiënte se toetstellings opgeneem, berekeninge gedoen en ? verslag saamgestel word.

Haar raad aan aspirant-entrepreneurs is: “Moenie daaraan dink om ’n onderneming te begin as ’n ‘groot ding’ waar jy presies moet weet wat jy doen, iets wat noodwendig kapitaalbelegging nodig het, of net as ’n manier om geld te maak nie. Om ? onderneming te begin is so eenvoudig soos om ’n probleem op te los.”

Om te weet dat jy ’n onderneming begin het om ’n probleem op te los en nie net geld te maak nie, sal verseker dat jy die deursettingsvermoë het wat nodig is om die uitdagende tye te deurstaan, voeg sy by.

Lutz het ook haar aanlyn leerplatform begin terwyl sy nog op skool was. In gr.9, tydens die Covid-19-pandemie, het sy besef dat hoewel haar skool soomloos na aanlyn leer kon oorskakel, daar baie leerders was wat nie dieselfde toegang tot digitale opvoedkundige hulpmiddels gehad het nie.

’n Paar jaar later is Milani Education, nou ’n gratis aanlyn leerplatform wat opvoedkundige inhoud uit die huidige kurrikulum vir gr.8- tot gr.12-leerders landwyd verskaf, van stapel gestuur.

Vushe, wat haar fotografie- en inhoudskeppingsonderneming FineApple Pixels in 2022 begin het, stem met Truter saam: “Hierdie onderneming het vir my nooit net daaroor gegaan om wins te maak nie. Dit het gegaan om te bewys dat idees gestalte kan kry – die vermoë om te skep, om te groei, om iets meer te word.”

Die maatskappy is ontwikkel weens Vushe se persoonlike ervaring toe sy nie ’n geskikte of bekostigbare fotograaf vir ’n spesiale geleentheid kon vind nie. Nou bied die studentgedrewe FineApple Pixels buigsame, deeltydse geleenthede vir studentefotograwe om hul talent te ontwikkel en ’n inkomste te verdien terwyl hulle doen waarvoor hulle lief is. “Ons doelwit is om een van die grootste vryskutplatforms vir kreatiewe dienste te word.”

Dié data-ingenieurstudent verduidelik dat sy haar tegniese vaardighede en haar kreatiewe gees saam wou inspan. “Toe my suster vir my haar kamera gee wat sy nie meer nodig gehad het nie, was ek vasbeslote. Ek het alles van voor af geleer met behulp van YouTube en aanlyn bronne. Ek het begin met gratis fotosessies vir my vriende, vir my koshuis tydens die verwelkomingsweek vir eerstejaars en vir fakulteitsgeleenthede.”

Om ’n finalis in die EOHO -kompetisie te wees is vir haar ’n “mylpaal” op haar entrepreneurskapsreis. “Dit is ’n geleentheid om te groei, te leer en met geesgenote te skakel, terwyl dit ook vir ander studente wys dat dit moontlik is om hul drome te verwesenlik.”

You need to be Logged In to leave a comment.