Die Universiteit Stellenbosch (US) sê hy respekteer die godsdienstige oortuigings en kulturele agtergrond van alle personeel en studente en prioritiseer en brei daarom die transformasieplan-inisiatiewe van sosiale insluiting uit om ’n verwelkomende en bemagtigende institusionele kultuur sowel as om studentetoegang en -sukses te bevorder.
In ooreenstemming hiermee, sê Martin Viljoen, US-woordvoerder, het die universiteit oor die jare geriewe bygevoeg om voorsiening vir Moslemstudente te maak. “Inisiatiewe sluit in die gebedskamer in die Neelsie en – veral belangrik – die deurlopende uitbreiding van kombuise wat vir Moslemstudente voorsiening maak.”
Dit volg nadat Moslemstudente gekla het dat veral koshuiskombuise nie genoeg halaal-geriewe het nie.
’n Derdejaarstudent, wat nie haar naam wil noem nie, sê sy woon in Nemesia-koshuis en almal eet in die Tinie Lous-eetsaal, maar omdat die Tinie Louw-kombuis nie as halaal gesertifiseer is nie, moet sy haar kos by Metanoia kry.
“Die getalle Moslemstudente het toegeneem en dit is nogal moeite om heen en weer na Metanoia te loop vir kos. Ons moet ook elke keer ’n vorm invul, wat ’n ongerief is.”
Koshuiskombuise wat tans halaal gesertifiseer is, sluit in die koshuise Metanoia in die Rubix-kluster, Irene in die Wimbledon-kluster, Goldfields in die Validus-kluster en Harmonie en Monica in die Victoria-kluster, wat almal gesertifiseer is om halaalmaaltye in hul eetsale voor te sit.
Aneekah Cookson, ’n derdejaar-onderwysstudent, sê sy kan nie verstaan dat daar vegatariese disse op die spyskaart is, maar nie halaal nie.
“Om halaal te eet, is nie my keuse nie – dis deel van my geloof. Ek moet ver loop om halaalkos te kry terwyl die res van die studente by die koshuis self kos kan kry. Ek verstaan nie hoekom al die koshuise nie halaalopsies het nie. Dit is baie ongerieflik, ek het koshuis toe gekom sodat dit meer gerieflik kan wees vir my studie, maar nou is dit ongerieflik vir my om te eet,” voeg sy by.
Viljoen sê alle koshuisstudente wat halaal wil eet – of hulle nou in die betrokke koshuise bly of nie – mag hul maaltydkwotas gebruik om hier te bespreek en in hierdie sale of in hul eie koshuise te eet.
Privaatwykstudente kan ook van enige kluster se eetsale gebruik maak deur eenvoudig vooraf geld in hul maaltydkwotas te deponeer.
“Verder bedien die deli in Huis Russel Botman ook halaalwegneemetes. Hierdie gerieflike diens is veral beskikbaar vir studente in die Wimbledon-kluster (Eendrag-, Irene-, Sonop- en Helshoogte-koshuise en die privaatwyke Aristea en Vesta), maar dit kan deur enige ander student of personeellid gebruik word. Koshuisstudente van die kluster eet op hul maaltydkwotas op hul studenterekeninge, terwyl PSO-studente weer net vooraf geld in hul kwotas deponeer (soos op www.maties.com verduidelik).”
Viljoen sê wat belangrik is, is dat halaalkos in baie gevalle na sekere koshuise geneem word waar daar ’n behoefte daarvoor is en spesiale reëlings getref is.
“Koshuise wat nog nie hierdie opsie het nie, kan eenvoudig die nodige reëlings met die betrokke spyseniers in daardie spesifieke koshuis tref. Die US moedig studente aan om in hul koshuise en klusters hieroor te praat waar nodig.
“Daarbenewens maak die US-eetsale voorsiening vir ’n verskeidenheid maaltydopsies om in die behoeftes van ’n diversifiserende studenteliggaam te voorsien.”
Hy sê as deel van die US se transformasiereis belê die US doelbewus in inklusiewe fasiliteite en ruimtes en sien ook eetsale (vir koshuis- en PSO-studente) as ruimtes waar ’n verskeidenheid studente (en personeel) bymekaar kan kom om idees uit te ruil, by mekaar te leer, met groter aandag te luister en idees te stimuleer wat daarop gemik is om diversiteit te vier.