FNB Maties het Maandagaand (4 April) agt drieë teenoor FNB Madibaz se drie in die Danie Craven-stadion in Stellenbosch gedruk om ’n oortuigende oorwinning van 61-21 in die agtste ronde van die FNB-Varsitybeker aan te teken. Die tuisspan se blitsvinnige vleuel, Marcqiewn Titus, het ’n driekuns behaal – twee hiervan was sewe-punt-drieë – en is aan die einde van die wedstryd as die “Player that Rocks” aangewys. Die Maroenmasjien se losskakel, Jurie Matthee (foto) en die plaasvervanger-losvoorspeler Siya Matanda het albei twee keer agter die doellyn gekuier. Matthee het met sewe doelskoppe en ’n strafdoel geslaag. Hy het 27 punte in die wedstryd vir die Maties aangeteken. Die negende ronde van vanjaar se kompetisie word Maandag 11 April beslis met die Stellenbossers wat om 19:00 in die Danie Craven-stadion in ’n derbystryd vir FNB-UWC gasheer speel. Foto: ASEM Engage/Luigi Bennett