Tien Stellenbosse kanovaarders was deel van die talle roeiers wat verlede Woensdag (3 Julie) van Paarl na Velddrif in die Bergrivier-kanomarathon geroei het.
Dié jaarlikse wedvaart strek oor 240 km. Aanvanklik het 108 roeiers vir die vier dae lange kanomarathon ingeskryf, maar slegs 81 kon die uitmergelende trek Saterdag (6 Julie) tot in die Weskus voltooi.
Die Stellenbosch-kanoklub het oorspronklik 14 inskrywings gehad, waarvan net 10 die wedvaart kon voltooi. Die plaaslike roeier Conrad Kriel het Dinsdag siek geword en Francois Loedolff kon nie ’n griep afskud voordat die tog begin het nie.
Hul mede-klublid Johan van Rooyen het moedig tot die einde van die tweede skof geveg, maar ’n maagaandoening het hom halfpad tydens die tweede skof platgetrek, terwyl Gert van Deventer hom aan die einde van die derde skof weens koors moes onttrek. Gert se onttrekking was veral hartseer aangesien hy in daardie stadium onder die voorste 20 roeiers was.
Met hierdie onttrekkings het Maties net-net die Giel van Deventer-trofee vir die klub met die meeste roeiers wat die wedvaart voltooi het, misgeloop. Sy buurklub Paarl het uiteindelik met die trofee weggevaar nadat die klub se 11 roeiers oor die wenstreep gevaar het.
Francois Meyer was die eerste Stellenbosser wat die Carinusbrug in Velddrif bereik het – in die 32ste plek in 23 uur en 50 sekondes. Kort op sy hakke was Dawid Malherbe in die 33ste plek, gevolg deur die Matie Gerhard Beukes in die 34ste posisie.
Tayla Isaac was die jongste Matie en die derde vrou oor die eindstreep en die tweede in die o.23-afdeling. Sy het in die algeheel 38ste plek geëindig (23:38:47).
Die res van die Maties wat die 63ste weergawe van die kanomarathon voltooi het, was Daantjie Malan (43ste plek), Johan Serdyn (61), Barry Muller (63), Hanrè Streicher (67), Danie Brink (73) en Morne Jumeni (74).
Saterdag het Gerhard Beukes sy 41ste Berg’ voltooi en Johan Serdyn sy 34ste. Benewens die uitdaging wat die tog reeds verg, het prof. Danie die eerste dag geroei met ’n regterarm wat swaar verbind was. Nogtans het hy deurgedruk en die uitdaging ná 32 uur 21 minute voltooi. Hanrè het die wedvaart met ’n seer skouer en tendonitis in sy pols voltooi.
Toestande tydens vanjaar se wedvaart was nie gunstig vir die roeiers nie met dag een wat deur lae watervlakke, koue en reën gekenmerk is. Dag twee was tegnies uitdagend in die vorm van boom-versperrings en palmietgangetjies en die derde dag was die langste dag – ’n stewige 74 km. Die laaste dag het nie veel verligting gebring nie en die roeiers moes wind en branders vir die laaste 10 km aandurf.
Die wedvaart is deur Thomas Lovemore (Knysna) in 18 uur en 39 minute voltooi – slegs 1 minuut en 41 sekondes voor Robbie Herreveld. In die vroue-vaart het Stephanie von der Heyde (21:59:54) koningin gekraai.