Maties rou ná selfdood

Die studente-gemeenskap is in rou gedompel ná die dood van nog ’n student vanjaar in ’n koshuis van die Universiteit Stellenbosch.


Die studente-gemeenskap is in rou gedompel ná die dood van nog ’n student vanjaar in ’n koshuis van die Universiteit Stellenbosch.

Kyran “Ky” Rowe se lewelose liggaam is volgens die Stellenbosch-polisiekantoor verlede Dinsdagaand omstreeks 20:30 in die Simonsberg- manskoshuis gevind.

Volgens betroubare inligting het Rowe, ’n eerstejaarstudent in Bcom Internasionale Besigheid, nes ’n ander US-student, Siphokazi Ntozini (21), sy eie lewe geneem. Ntozini se liggaam is op 24 Julie in die Heemstede-vrouekoshuis gevind.

Dr. Choice Makhetha, die US se senior direkteur van studentesake, het haar hartseer in ’n amptelike mediaverklaring van die US uitgespreek. “Met die dood van Siphokazi Ntozini, ’n inwoner van Heemstede-vrouekoshuis, nog vars in ons geheue, rou die kampusgemeenskap nou oor die verlies van nog ’n jong lewe uit ons geledere.”

Makhetha het haar medelye met Rowe se familie en vriende gedeel. “Ons hou die familie van die student gedurende hierdie uiters moeilike en hartseer tyd in ons gedagtes en gebede. Ons wil hulle van die US-gemeenskap se ondersteuning verseker. Ons dink ook aan die student se vriende en mede-inwoners in Simonsberg wat die verlies van ’n vriend moet verwerk.”

’n Spesiale roudiens is verlede Sondag by die Simonsberg-manskoshuis gehou om die lewe van Rowe te herdenk. Dr. Leslie van Rooi, die koshuishoof en senior direkteur van sosiale impak en transformasie, het ook sy hartseer uitgespreek. “Ky se dood kom as ’n skok vir almal in die koshuis. Dit was ongelooflik moeilik om die koshuisstudente, sy ouers en sy vriende in te lig dat hy nie meer met ons is nie. As koshuisgemeenskap rou ons tans saam met Ky se ouers, sy broer en hul familie. Ons gaan hom mis.”

Simonsberg-primarius Simeon September het gesê hy sal Rowe as ’n “warm en vriendelike” persoon onthou. “My herinneringe van ons gesprekke saam, sokkersessies in die vierkant en sy spel vir Simonsberg-A-span op die Lentelus-velde sal ek altyd koester.”

Intussen het die US se sentrum vir studentevoorligting en ontwikkeling ’n afspraaklys aan koshuise gestuur vir hul inwoners om aan te dui wanneer sielkundiges die verskillende koshuise kan besoek.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.