Die Maties-krieketspan het die afgelope naweek ’n oorheersende sege oor die Robertson-krieketklub behaal en die studente is een treetjie nader aan die ligavoorlopers, die Van der Stel-krieketklub, in die Boland-premierliga.
Die spanne het Saterdag (15 Februarie) in Robertson kragte gemeet, met Maties wat die kragmeting met 223 lopies gewen het.
Die besoekers het eerste gekolf en in hul 50 boulbeurte 330/4 aangeteken, danksy honderdtalle deur David Christie (154) en Jason Muirhead (105). Kaden Solomons (31*) het aan die einde van die beurt ook met die kolf bygedra.
Aan die boulfront het die Stellenbosse boulers met hul aanvallende strategie te werke gegaan om die tuisspan vir slegs 107 lopies in 32.1 boulbeurte uit te haal. Dit was veral Salmaan Ajam (4/23), Christiaan Wege (4/17) en Ryan Jairaj (2/16) wat sukses met die bal behaal het.
In Stellenbosch het Van der Stel die Coronations-krieketklub op die Bergsig-ovaal verwelkom. Corries het eerste gekolf en 156/10 in 47.1 beurte aangeteken. Lehan Botha (63) en Danico Philemon (35) was die topkolwers, terwyl Wynand Smit (4/30), Stefan Maree (2/14), Andre Hanekom (2/13) en Werner Brand (2/6) die beste boulvertonings vir Van der Stel gelewer het.
Op hul beurt het nie een van Van der Stel se eerste vyf kolwers dubbelsyfers behaal nie, maar Nicholas Reith (52*) en JJ Lambrechts (45) het die beurt geanker en gehelp om hul span oor die lyn te kry (158/7 in 30.5 beurte) om ’n driepaaltjie-oorwinning te behaal.
Vir Corries was Botha (5/51) die beste bouler.
Die ander plaaslike Premierliga-spanne was ook Saterdag in aksie.. Stellenbosch t. Worcester United op die Idasvallei-sportterrein:
Worcester United 153/10 in 47.2 boulbeurte: Brandon Layman 5/24; Allister Pool 3/21.
Stellenbosch 154/8 in 49.4 boulbeurte: Curt Oliver (63*) en Adrian Arendse (26).
Stellenbosch wen met 2 paaltjies.
. Victoriane t. Young Peoples op die Tassies-ovaal:
Vics 204/10 in 40.2 boulbeurte: Roxton Payne 47; David Botes 40; en Joe Macrobert 33.
Young Peoples 115/10 in 35.4 boulbeurte: Anda Dilima 3/26; Andre Mentz 2/29; en Matipa Denenga 2/18.
Victoriane wen met 89 lopies.
. Coronations-vroue t. Caledon-vroue in Caledon (T20-liga):
Coronations 163/3 in 20 boulbeurte: Janel Steenkamp 66 en Mialize van der Vyver 55*.
Caledon 22/10 in 7.5 boulbeurte: Chantelle van Schoor 5/7; Moseline Daniels 3/3 en Doni Lin 2/2.
Coronations wen met 141 lopies.
. Coronations-vroue t. Grabouw-vroue in Caledon (T20-liga):
Grabouw 14/10 in 12.1 boulbeurte: Doni Lin 4/3 en Zadi Petersen 2/1.
Coronations 15/0 in 4.1 boulbeurte: Monique Laas 11* en Danya Laas 2*.
Coronations wen met 10 paaltjies.