Twee ma’s moes Vrydagaand (23 Augustus) magteloos toekyk hoe mediese personeel hul twee studentekinders behandel op die toneel van ’n motorongeluk net buite Vredenburg.
Die ongeluk het omstreeks 20:00 op die gevaarlike kruising van die Vredenburg-Hopefieldpad (R45) en die Weskuspad (R27) in die Weskus gebeur.
Elowayne Gouws van West Coast Medical Rescue het gesê die oorledenes moes met hidrouliese toerusting uit die motorwrak gehaal word.
Metro EMS het met ’n ernstig beseerde Ashleigh du Toit (21) na die hospitaal gejaag. Dokters en verpleegpersoneel het alles gedoen wat hulle kon, maar sy het weens haar beserings gesterf.
Dylan Muller (19) is op die ongelukstoneel dood.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n Weskus-polisiewoordvoerder, het die voertuig waarin die oorledenes gery het, tussen ’n vragmotor se kopstuk en sleepwa beland. Die vragmotor het van Velddrif se rigting af gekom en die oorledenes van Hopefield af.
Die twee was beide studente aan die Universiteit Stellenbosch.
Hulle was op pad na Paternoster om by hul families vir die naweek daar aan te sluit. Familielede het mekaar op die ongelukstoneel onderskraag.
Helfrich het gesê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek. – Alida Buckle