Die oomblik waarvoor almal gewag het, het uiteindelik aangebreek: 246 kaalkop-Paul Roosers het met die amptelike matriekdasoorhandiging-seremonie hul plek as volwaardige matrieks by hul skool ingeneem.
Die tradisionele dasoorhandiging het Woensdag 9 Januarie plaasgevind en gaan elke jaar gepaard daarmee dat die ongeveer 240 matrieks (ook tradisioneel) hul hare vooraf afskeer vir die geleentheid – steeds in solidariteit met ’n Paul Rooser wat dit jare gelede uit protes gedoen het.
Elke trotse glimlag het aan Paul Roos bewys dat die matriekklas van 2019 gereed is vir alle uitdagings wat die volgende elf maande vir hulle voorlê.
Die afwagting op die splinternuwe blink strepiesdasse het opgebou terwyl die rektor, André van Staden, die geleentheid gelei het.
Hy het ’n aankondiging gemaak oor die skitterende akademiese prestasies van 2018 se matrieks en ’n belowende vooruitsig vir infrastruktuur-opgraderings vir die skool in die nabye toekoms geskets.
Daarna het Chris Albertyn, hoofseun vir 2019, oorgeneem met ’n boeiende toespraak oor broederskap waarmee hy elke graad 8-leerder laat besef dat hy werklik sy tuiste gevind het.
Kort voor lank het die hartklop-oomblik die graad 12’s getref – en het die besef dat die begin van die einde nader sluip, vir ’n kortstondige oomblik ’n donker wolk oor hul opwinding laat sweef.
Die idee dat herinneringe sterker word, dat verantwoordelikheid swaarder weeg en dat tyd vinniger as ooit beweeg, het ’n tweestrydige rusteloosheid in die maroen harte gelaat.
Met die oorhandiging van die dasse het die graad 12’s bewus geword van die feit dat dit nie net ’n nuwe bykomstigheid by die uniform is nie, maar dat die das ’n embleem is vir elke matriekseun se onvervangbare waarde in Paul Roos, dat die kruin van sy skoolloopbaan bereik is en dat die ryk nalatenskap van Paul Roos nou na die volgende geslag oorgedra moet word.