Matrieks baat baie by Winterskool

Kuier, die grootste Afrikaanse vrouetydskrif in Suid-Afrika, in samewerking met die dagblad Son bied vanjaar sy derde Winterskool gratis vir 200 matrikulante aan.


Kuier, die grootste Afrikaanse vrouetydskrif in Suid-Afrika, in samewerking met die dagbladSonbied vanjaar sy derde Winterskool gratis vir 200 matrikulante aan.

Die Kuier en Son Winterskool het die afgelope Maandag (17 Junie) begin en duur tot môre (Vrydag) by Hoërskool Lückhoff.

Dié winterskool is in 2017 vir die eerste keer aangebied omdat daar ’n nood in ons gemeenskappe is om veral matriekleerders te help voorberei vir hul eindeksamen, volgens Ernusta Maralack, artikelredakteur van Kuier en ook leier van hierdie projek.

Kuier is ’n publikasie wat deel is van soveel huishoudings en ons doelwit ván die eerste Winterskool is om ons matrieks te help. Baie kinders het dus die potensiaal om sukses te behaal en op dié manier hul eie families en gemeenskappe te help ophef, daarom móét ons probeer om hulle ’n ekstra hupstoot in die regte rigting te gee,” sê Maralack.

Sy voeg by dat dit ’n uitdaging is om ’n winterskool in die vakansie aan te bied omdat die matrikulante sopas hul Junie-eksamen afgelê het en eintlik wil vakansie hou. “Maar om te sien dat die matrieks wel opgedaag het en so entoesiasties deelgeneem het aan gesprekke in die klas, wys die projek werk. Die onderwysers is ook reeds beïndruk deur ’n paar kranige leerders en geniet dit om op hierdie manier terug te ploeg in ons kinders.”

Met Eikestadnuus se besoek Dinsdagmiddag het van die matrikulante aangedui hoe die winterskool hulle alreeds gehelp het. “Ek geniet dit sover, want in die klas leer die onderwyser vir jou een metode, maar hier leer jy ander metodes wat miskien vir jou beter werk, so dit help my baie in daardie opsig,” het Danica Brandt gesê.

Sergio McCoy sê: “Daar was werk wat ek voorheen nie verstaan het nie, maar hierdie ekstra klasse het my daarmee gehelp.”

Die Kuier & Son Winterskool is ’n verfrissingsgeleentheid vir matrieks waar hulle daarop fokus om hul werk te hersien en op hoogte te kom van waar hulle moet wees om voorbereid vir die eindeksamen te wees.

Dit word hoofsaaklik in Afrikaans aangebied en daar word klem gelê op die verpligte vakke wat in die eindeksamen geskryf word: Afrikaans Huistaal, Engels Eerste Addisionele Taal, wiskunde en wiskundige geletterdheid. Die bykomende vakke wat behandel gaan word is geskiedenis, geografie en lewensoriëntering.

Die dag word grootliks gewy aan akademiese hersiening, maar die tydskrif het ná afloop van elke akademiese dag ook inspirerende sprekers.

Ernusta, wat ook aanbieder was van die onlangse kykNET & kie-misdaadreeks, Op Seer se Spoor, en die baasspeurders Marlon Appollis en Stephen Adams het Maandag 17 Junie met die matrikulante gesels. Dinsdag het oor entrepreneurskap gegaan waartydens die plaaslike sakevrou Vivian Kleynhans van die Seven Sisters-wynmakershandelsmerk die leerders toegespreek het. Mark Jacobs van die uiters gewilde VannieKaap-handelsmerk het ook sy lesse kom deel. Woensdag 19 Junie het Julian Jansen van Rapport en Shantel Moses van Son hul lewensverhale en wat dit beteken om die gemeenskappe deur hul werk te dien, met die kinders gedeel.

“Op Donderdag 20 Junie wil ons die leerders wys ongeag wat hul lewenstorie dalk nou is, dit maak saak. En wie beter om hieroor te praat as Bradley Joshua van Gambit Films, wat trefferflieks soos Noem My Skollie, Nommer37 en Ellen, dieEllen Pakkies-storie asook die kykNET-sepie Suidooster vervaardig. Die ander uitste­kende storieverteller wat by Bradley aansluit is Theltom Masimila, wat toe hy nog jonk was die TV-wêreld aan die brand geskryf het met sy werk op die kykNET-telenovela, Arendsvlei.”

Die Winterskool word Vrydag afgesluit met ’n praatjie deur Dean Smith en Lauren Joseph, wat Wade en Zoe in Suidooster speel.

“Met so ’n program hoop ons om minstens een matrikulant te inspireer om hul drome na te jaag, ongeag hul omstan­dighede!” sluit Ernusta af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.