Matrieks baat by wiskunde-week

Masandisi, ’n organisasie sonder winsoogmerk (NPO) wat ondersteuning aan eerstegenerasiestudente van die Stellenbosch-omgewing bied, het verlede week ’n wiskunde-wegbreek-vakansieprogram vir matrieks aangebied.


Masandisi, ’n organisasie sonder winsoogmerk (NPO) wat ondersteuning aan eerstegenerasiestudente van die Stellenbosch-omgewing bied, het verlede week ’n wiskunde-wegbreek-vakansieprogram vir matrieks aangebied.

Die program het van 27 Junie tot 1 Julie by Die Khaya in Ryneveldstraat plaasgevind en 31 leerders van Kylemore en Idasvallei het daaraan deelge­neem.

Die organiseerder, Marieda van der Merwe, sê sy het die idee vir die wiskunde-wegbreek in April gekry en moes gou speel om soveel skole moontlik betrokke te kry.

“Ek het in April met ’n onderwyser van Cloetesville gesels en toe die idee gekry dat baie leerders by so ’n program sal baat vind. Ek het gesien party leerders het ’n baie groot agterstand as gevolg van die Covid-19-pandemie. Cloetesville kon egter nie vanjaar deelneem nie omdat hy reeds ’n program met die WKOD aangehad het,” het Van der Merwe gesê.

Een van die leerders, Jean-Pierre Plaatjies, sê hy is nou meer positief oor die wiskunde-eindeksamen en hy het baie by die wiskunde-wegbreek geleer. “Die week was fantasties. Ons het soggens lesings gehad en smiddae het die tutors ons gehelp. Ons weet nou meer as toe ons hier aangekom het. Ons het nuwe dinge geleer,” voeg hy by.

Nog ’n leerder, Thaine James, beaam dat die wiskunde-wegbreek “lekker” was. “Die eerste paar dae het ons algebra gedoen en die laaste twee dae my gunsteling – meetkunde. Ek is positief oor die eindeksamen, want die tutors het ons baie gehelp.”

Van der Merwe sê baie kinders is eintlik A-kandidate, maar het nie selfvertroue nie.

“Maar ná hierdie week kon ons sien hoe hul selfvertroue verbeter het. Die aanbieders van die program is deurwinterde onderwysers en dosente met jare lange ondervinding. Ons hoop om volgende jaar al die skole in die omgewing betrokke te kry.”

Sy sê Masandisi bied emosionele ondersteuning en ’n klein maandelikse toelaag aan eerstegenerasiestudente. “Ons ondersteun ook studente op ’n persoonlike vlak met selfoondata, klere, rekenaars en brille. Ons is as’t ware soos ’n voog vir die leerders. Ons het baie goeie verhoudings met die studente en as hulle op enige vlak sukkel, hetsy akademies of persoonlik, help ons sodat hulle kan presteer.”

Maar, sê Van der Merwe, die verantwoordelikheid is steeds dié van die student om hard te werk en te slaag. “Ons bied net ondersteuning – die student moet self leer en die harde werk insit.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.