Matrieks keer terug na die Roos

’n Gees van opwinding het Maandag (1 Junie) met die aankoms van die Paul Roos Gimnasium-matrieks geheers.


’n Gees van opwinding het Maandag (1 Junie) met die aankoms van die Paul Roos Gimnasium-matrieks geheers.

Leerders is positief en het uitgesien om hul vriende te sien, maar besef die erns van die situasie – iets wat duidelik blyk uit ’n onlangse aanlyn opname waarin hulle aandui dat streng opgetree moet word teen leerders wat nie die Covid-19-veiligheidsmaatreëls nakom nie.

Paul Roos Gimnasium het die afgelope drie weke hard gewerk om die aanvang van die nuwe kwartaal seepglad te laat verloop.

’n Covid-19-veiligheids- en gesondheidskomitee is saamgestel wat formele Covid-19-prosedures en riglyne, ooreenkomstig met die voorgeskrewe WKOD-riglyne, opgestel het.

In die aanloop tot die terugkeer van onderwysers en leerders is aandag gegee aan die deeglike skoonmaak van die skool, daaglikse sifting van alle personeel en saamstel van oriënteringsprogramme vir personeel en leerders op hul eerste dag terug by die skool. Alle Paul Roos Gimnasium-opvoeders is sedert die vorige week al by die skool.

Alle leerders, hul ouers en personeel het reeds verlede week ’n omvattende skrywe ontvang met besonderhede oor die stappe wat die skool gedoen het om die terrein te beveilig asook die Covid-19-veiligheidsmaatreëls en -riglyne wat gevolg moet word wanneer die terrein betree word.

Die skoolterrein is in ’n Covid-19- gereguleerde gebied omgeskep en plakkate wat die skool se protokol duidelik uiteensit, is aangebring. Die nodige Covid-19-hulppakette is van die WKOD af ontvang en ’n Covid-19-blad is op die skool se webwerf aangebring waar al die verwante inligting op een plek besigtig kan word.

Andrè van Staden, die rektor, sê: “Ons is in al ons optrede en voorbereidings deur een ding gemotiveer – om die beste van ons vermoë te verseker om die gesondheid en veiligheid van leerders, onderwysers en ons personeel te beskerm.”

Dit beklemtoon sy erns om veiligheidstandaarde te handhaaf.

Slegs 19 van die 248 Paul Roos-matrikulante het nie die eerste dag van skool opgedaag nie. Vyf leerders uit Namibië is nou in kwarantyn. Minder as 20 leerders met siektetoestande, meestal respiratories van aard en onder beheer, woon klasse met hulle ouers se goedkeuring by.

’n Opsomming van die belangrikste voorbereidings, voorsorgmaatreëls en reëlings wat getref is met die aanvang van die nuwe kwartaal op 1 Junie vir die gr. 12-leerders is:

Prosedures rakende toelating tot die skoolterrein

Alle leerders, personeel en besoekers ondergaan ’n formele siftingsproses. Verskillende ingange word gebruik om die verskillende groepe te huisves en te verseker dat veilige afstande tussen mense gehandhaaf word.

’n Aanlyn vraelys word deur die personeel en leerders voltooi met vyf Covid-19-siftingsvrae voordat toegang tot die skoolterrein verleen word, ongeag die ander toelatingsvereistes waaraan voldoen moet word, soos die verpligte dra van ’n masker, reiniging en temperatuur-skandering.

Die leerders word voortdurend aan die voorskrifte aangaande veilige afstande deur opsigtelike merkers en kennisgewingborde herinner.

Ontsmetting

’n Omvangryke ontsmettingsprogram verseker dat alle ander hoërisiko-oppervlaktes deurlopend gereinig word.

Onderrig

Die gr.12-rooster is aangepas om die wisseling van klasse so ver as moontlik te beperk. Die lengte van periodes is tot 1 uur 15 minute verleng.

Indien ’n opvoeder nie skool toe kan kom nie, sal die werk onder die vakspan verdeel word.

Aanlyn lesse en werk vir grade 8 tot 11 sal soos in die grendeltyd voortgaan.

Ander voorkomende maatreëls

Die kafeteria is nie oop vir sake nie.

Splendidior, die skool se klerewinkel, sal slegs per afspraak oop wees.

Ouers of besoekers word slegs per afspraak op die skoolterrein toegelaat.

Leerders moet skooldrag dra, maar is nie verplig om skoolbaadjies spesifiek te dra nie, omrede dit nie so gereeld skoongemaak kan word nie.

Die rektor se verwelkomingswoorde aan die leerders en personeel was dat die skool se vermoë om aanpasbaar te wees en ten volle bewus te wees van die situasie, die suksesvolle hantering van hierdie onseker tyd sal bepaal.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.