Die Hoër Meisieskool Bloemhof matriek klas van 1964 het Donderdag 7 Maart hul 60ste reünie gehou. Foto: Tasmin Cupido


Die 1964-matriekklas van die Hoër Meisieskool Bloemhof het verlede Donderdag (7 Maart) hul 60ste reünie met ’n byeenkoms en samesyn in die Markötter-sentrum gevier.

Altesaam 28 van die oorspronklike klasmaats het die geleentheid bygewoon.

Die skool se stigtingsdag word elke jaar op 8 Maart gevier en gaan gewoonlik gepaard met ’n massa-reünie by die skool, maar die 1964-klas het besluit om ’n dag voor die jaarlikse saamtrek ’n afsonderlike byeenkoms te hou vanweë die unieke spoor wat hulle by die skool gelaat het. Twee van die klas se onderwysers was deel van die kuier.

Volgens die organiseerder, Margie Mey, is agt van die klasmaats van sub A (gr. 1) Bloemhoffers. “Ons is tot standerd 2 (gr. 4) in klaskamers gehuisves waar die De Cameron-restaurant vandag is,” vertel sy. “Juffrou Daneel was toentertyd die laer standerds se skoolhoof. Sub A- en sub B se klasse was gemeng – seuns en meisies. In ons sub A-klas was Jock de Jager, wat later Paul Roos Gimnasium se rektor was, asook Helmie de Vries, die voormalige kelderbestuurder van Koelenhof.

“Van standerd 3 (gr. 5) het ons in die ou Bloemhof-skool in Van Ryneveldstraat klas gehad onder die skoolhoof Juffrou L.C. Swart. Ons het vroeg in 1960 as standerd 6’e (gr. 8) na die nuwe skoolgebou in Krige­ville verhuis. Ons het saam met die res van die hoër klasse van die ou skool in Van Ryneveldstraat na die nuwe skool gestap. Ons was die eerste groep wat van standerd 6 tot matriek in die nuwe skool was.”

Mey voeg by juffrou C.E.S. Coetzee het in die klas se matriekjaar as skoolhoof by Swart oorgeneem. “Ons groep het die voorreg gehad om die huisstelsel – Huis Hofmeyr, Huis Lucy Joubert en Huis Neethling – te begin en teen mekaar meegeding. Huis Neethling se lede het in ons matriekjaar (1964) die Bloemhof Bulletin as die eerste skoolkoerant begin,” vertel sy verder.

“Sommige van ons klasmaats se verbin­tenis met Bloemhof is reeds meer as 70 jaar gelede begin. Drie van die reünie­gangers het hul maats die eerste keer in 60 jaar by die geleentheid gesien.”

You need to be Logged In to leave a comment.