Matrikulant skeer bronsmedalje los

Slegs vier maande ná sy kennismaking met die vaardigheid in landbou het Bradwin Pietersen op die podium van die Bloemskou se nasionale skaapskeer-kampioenskappe met ’n bronsmedalje om sy nek gestaan.

Die 17-jarige Bradwin Pietersen van Lanquedoc met die bronsmedalje wat hy by die Bloemskou se nasionale skaapskeer-kampioenskap gewen het.Foto:

Credit: SYSTEM

Slegs vier maande ná sy kennismaking met die vaardigheid in landbou het Bradwin Pietersen op die podium van die Bloemskou se nasionale skaapskeer-kampioenskappe met ’n bronsmedalje om sy nek gestaan.

Nou hoop dié 17-jarige om sy vaardighede nog meer op te skerp en Suid-Afrika eendag in die wêreldkampioenskap te verteenwoordig.

Die Hoërskool Kylemore-leerder hoop ook om sy studies in landbou aanstaande jaar voort te sit – en dit als ná ’n toevallige bekendstelling met die vaardigheid.

“Een van my onderwysers het in Januarie vyf leerders gekies om ’n kursus in elektriese skaapskeer in Porterville by te woon,” vertel Pietersen.

“Hier is ons verskeie tegnieke en posisies geleer, asook meer oor die soorte wol en masjiene. Dit was my eerste ontmoeting met ’n skaap. Ek was eers skrikkerig, maar het gou aan die diere gewoond geword.

“Teen die einde van die kursus was ek baie gemaklik met die skape en die tegnieke. Ek het toe ook my skaapskeer-ID ontvang. Ek sou nooit kon droom dat ek skaapskeerdery só baie sou geniet nie.”

Dié inwoner van Lanquedoc het in Februarie – slegs ’n paar weke ná die kursus – aan die Wes-Kaapse skaapskeer-skolekampioenskap in Riversdal deelgeneem. Hier is hy tot die provinsiale span verkies, wat in April aan die nasionale skolekampioenskap in Bloemfontein deelgeneem het.

Pietersen onthou die gevoel van trots en opgewondenheid wat deur hom gespoel het toe sy naam as die wenner van die derde plek aangekondig is.

“Ek het nie verwag om iets te wen nie; dit was ’n groot verrassing,” sê die gr.12-leerder.

“Dit het my ook aangespoor om meer te oefen, meer tegnieke te leer en aan te hou om dié aktiwiteit te beoefen. Ek hoop om verder te gaan en aanstaande jaar die nasionale span te haal.”

Pietersen, wat ook ’n kranige rugbyspeler is en enige posisie in die agterlyn kan speel, meen skaapskeer moet as ’n sportsoort geklassifiseer word, veral omdat deelnemers ’n hoë fiksheidsvlak moet handhaaf.

“Dis g’n grap om ’n skaap te vang nie,” vertel hy laggend. “Ek het ’n nuwe respek vir mense wat in dié bedryf werk; dis harde werk. Dis nogal ook ’n kuns om met die masjien te werk en die perfekte snit te kry. Dit verg tyd om gehaltewerk te lewer en ’n mens moet fiks wees, want jy moet nie net die skaap vang nie, maar ook die regte tegnieke gebruik om die skaap in die regte posisie te hou.”

Pietersen se ouers is trots op sy vinnige opgang in skaapskeerdery en hy hoop om hulle nog trotser te maak wanneer hy aanstaande jaar sy studies in landbou voortsit.

“Ek wil graag by Elsenburg gaan swot en deel wees van die Elsenburg-skaapskeerspan. Ek dink dis die eerste stap om my loopbaan in skaapskeer te laat floreer.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.