Mediclinic Stellenbosch het verlede Dinsdag en Woensdag (30 en 31 Julie) sy tweede “Dare to dream”- loopbaanuitstalling by die Hoërskool Cloetesville gehou.
Ongeveer 850 leerders van Cloetesville (graad 9 en 11) sowel as die graad 12’s van Hoërskool Kayamandi, Stellenzicht en Makupula het vanjaar se uitstalling bygewoon.
Leerders het oor ’n verskeidenheid loopbane in rigtings soos onder meer bestuur, medies, inligtings-tegnologie en menslike hulpbronne geleer.
Personeel van die maatskappy was aan die stuur van die verskillende loopbaan-stalletjies.
“Die uitstalling gaan daaroor om hoop te skep en leerders aan te moedig om verby hul omstandighede te kyk,” volgens Deon Myburgh van Mediclinic.
Die uitstalling is deel van die Mediclinic se voortgesette vennootskap met die Hoërskool Cloetesville, wat sedert November 2017 deur die organisasie Partners for Possibility (PFP) gefasiliteer word.
Die formele program duur 12 maande. “Die 12 maande is al verby, maar Mediclinic ondersteun steeds die skool, wat baie vir die leerders beteken. Die uitstalling, veral, gee die leerders hoop dat daar wel ’n toekoms vir hulle daar buite is,” sê Dorian Meyer, die hoof van Hoërskool Cloetesville.
Volgens Meyer heers ’n wanpersepsie onder leerders dat net dié wat wiskunde en fisiese wetenskappe as vakke het, ’n wye verskeidenheid loopbaankeuses het.
“Die uitstalling wys vir die leerders dat hulle wel ’n loopbaan ten spyte van hul vakkeuses kan vind.
“Hulle sien nou watter loopbaan hulle wil volg en dit moedig hulle aan om harder te werk, want nou het hulle ’n doel om te bereik.
“Vir my gaan dit ook daaroor om hulle te wys wat hulle ten spyte van hul omstandighede kan bereik.”
Voor die uitstalling het Reagan Sindi, ’n gr.11-leerder, nie geweet wat hy wil word nie, maar nou weet hy hy wil ’n chirurg word sodat hy mense kan help.
“Ons leer oor verskillende loopbane, maar die uitstalling het ons ook geleer om die negatiewe dinge eenkant te stoot,” vertel Sindi.
Jessica Batts van PFP, wat die vennootskap fasiliteer, moedig ander sakeleiers aan om ook betrokke te raak. “Myburgh se rol is om ’n klankbord vir die hoof te wees en om ’n bietjie leiding en rigting te gee.
“Ons soek sakeleiers wat bereid is om hul kennis, vaardighede en netwerk met ’n skool te deel.”
Mediclinic het as deel van die vennootskap verskeie opgraderings by die skool gedoen, waaronder die installering van veiligheids-kameras, skoot-rekenaars, internettoegang sowel as noodhulpopleiding vir personeel.VIndien iemand ook in ’n vennootskap betrokke wil raak, kontak Jessica Batts by battsjessica@gmail.com.