Bykans 700 graad 1-leerders is vanjaar by skole in Stellenbosch en omstreke ingeneem.
Tussen Brüchner de Villiers Primêre Skool, Idasvallei Primêre Skool, Klapmuts Primêre Skool, St. Idas RK Primêre Skool, PC Petersen Primêre Skool, Pniel Primêre Skool en Nondzame Primary School, het 657 leerders plek gekry.
Daar is egter 114 ander leerders wat nie betyds by ’n skool ingeskryf is nie en op ’n waglys geplaas is.
Eikestadnuus het verlede jaar berig dat ouers oudergewoonte met die hande in die hare sit omdat hul kinders by skole weggewys word.
Een moedelose ouer het vertel dat sy jaar ná jaar by skole weggewys is, omdat hulle nie binne die skool se radius woon nie en vroeër moes aansoek doen.
“Hoekom is dit so moeilik en is daar soveel teenkanting om jou kind by die beste moontlike skool in te kry?” het die ma, wat verkies om anoniem te bly, gevra.
Bella Witbooi, onderhoof by Kayamandi Primêr, het ook verlede jaar aan Eikestadnuus gesê hoewel hulle ouers se klagtes verstaan, skole reeds sukkel met oorvol klasse en eenvoudig leerders moet wegwys.
Kayamandi Primêr het verlede jaar byna 45 leerders per klas gehad en geen nuwe leerders het toelating tot die skool gekry nie.
Die Wes-Kaapse Onderwys-departement (WKOD) moedig ouers elke jaar aan om hul kinders so vroeg as moontlik by skole in te skryf.
Simone Kleynhans van die WKOD sê dit sal ook help as ouers by ten minste drie skole aansoek doen sodra registrasie open.
“Leerders moenie uit skole gehaal word voordat hulle nie by ’n skool geakkommodeer is nie,” het Kleynhans bygevoeg.