Die Universiteit
Stellenbosch (US) sal by sy Desember-gradeweek vandeesweek 5 500 kwalifikasies
verleen. Gradeweek is ‘n hoogtepunt op die Universiteit se akademiese
kalender, en 13 plegtighede sal van 5 tot 9 Desember by die Coetzenburg-sentrum
aangebied word. Die US sal ook
eredoktorsgrade toeken aan ‘n aantal individue wat uitsonderlike bydraes op hul
onderskeie gebiede gelewer het.
Prof Ernest Aryeetey sal die graad Doktor in die
Handel (DCom), honoris causa, ontvang. Dié voormalige visekanselier
van die Universiteit van Ghana is die stigtersekretaris-generaal van die
Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), ‘n netwerk universiteite wat
hulle op navorsingsvermoëbou op die vasteland toespits.
Die graad Doktor in die
Filosofie (DPhil), honoris causa, sal toegeken word
aan Zubeida Jaffer, ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse joernalis,
skrywer en aktivis. Jaffer het haar loopbaan in 1980 by die dagblad Cape
Times begin en het later gedurende die weerstandsbeweging teen
apartheid plaaslike gemeenskapskoerante help ontwikkel.
Strive Masiyiwa, die stigter
en uitvoerende voorsitter van die gediversifiseerde internasionale
telekommunikasiegroep Econet Global Ltd, waarvan die hoofkantoor in Suid-Afrika
geleë is, sal die graad Doktor in die Ingenieurswese (DIng), honoris
causa, ontvang. Hy word as een van die baanbrekers van die
mobieletelekommunikasiebedryf in Afrika beskou.
Die graad Doktor in die
Landbou (DAgric), honoris causa, word toegeken aan Thomas
Dreyer (Tommie) van Zyl. Hy staan al langer as 20 jaar aan die stuur van
ZZ2, ‘n innoverende landbou-onderneming en varsproduktemaatskappy. Die
maatskappy lewer ‘n aansienlike bydrae tot werkskepping en sosio-ekonomiese
ontwikkeling in Suid-Afrika.
Prof Agnes Binagwaho, ‘n Rwandese
pediater, het merkwaardige bydraes gelewer tot die verbetering van die
gesondheid en welstand van mense in Rwanda en die res van Afrika. Sy sal die
graad Doktor in die Natuurwetenskappe (DSc) (Geneeskunde en
Gesondheidswetenskappe), honoris causa, ontvang. Dit sal in
absentia toegeken word.
Die psigiater en
geestesgesondheidskenner prof Vikram Patel sal die graad
Doktor in die Filosofie (DPhil), honoris causa, ontvang. Hy is ‘n
toonaangewende figuur in die globale geestesgesondheidsbeweging en ‘n
belangrike bydraer tot die bevordering van geestesgesondheid en die voorkoming
van geestesongesteldheid in lae- en middelinkomstelande.
“Leef ons waardes uit”
Die Rektor en Visekanselier
van die US, prof Wim de Villiers, het die graduandi by voorbaat gelukgewens en
hulle verseker dat ‘n kwalifikasie van die US vir hulle deure sal oopmaak,
ongeag waar in die wêreld hulle is.
“Ondanks ons uitdagende
jaar is ons internasionale reputasie méér as ongeskonde. Ons het sterk netwerke
en doelgerigte vennootskappe gebou, en die internasionale gemeenskap wil graag
sien watter impak ons gegradueerdes sal hê,” het hy gesê.
Oor 2020 en 2021, toe Covid
nog die wêreld in ‘n wurggreep gehad het, het De Villiers gesê die US het daardie
uitdagende akademiese jare suksesvol voltooi danksy personeellede en studente
se aanpasbaarheid en skrik-vir-niks-gees. “En in 2022 kon ons selfs verder
gaan. Ons personeel en studente oor die hele akademiese spektrum het opnuut
bewys dat die US innovasie koester en bevorder,” het hy gesê.
“Daarmee sê ek nie daar was
nie groot uitdagings nie. Die ongelukkige voorvalle by ons universiteit het ons
gedwing om na te dink oor wat dit werklik beteken om ‘n inklusiewe instelling
te wees. Maar nadenke vereis ook optrede, en ons sal alles doen wat nodig is om
te sorg dat die US ‘n plek is waar almal voel hulle is welkom en word
gehoor.”
Hy het die graduandi
aangemoedig om “voort te gaan om die US se waardes van uitnemendheid, deernis,
billikheid, respek en verantwoordbaarheid uit te leef”.