Foto ter illustrasie. Foto: Michael Fousert/Unsplash


’n Groep inwoners en organisasies het verlede week ’n petisie met meer as 1 000 ondertekenaars teen die nuut voorgestelde drieverdieping-parkeerplek reg oorkant die Eikestad Mall aan die Stellenbosch-munisipaliteit oorhandig.

Die munisipaliteit het by monde van sy woordvoerder Stuart Grobbelaar op 25 Januarie met ’n maand lange konsultasieproses begin, wat dit ’n “openlike en deursigtige proses” gemaak het.

Volgens Grobbelaar het die munisipaliteit die proses begin om meer parkeerplek in die middedorp beskikbaar te stel nadat daar glo oor die “afgelope dekade reeds versoeke vir meer parkeerplek in die middedorp was van inwoners, besoekers en studente”.

“Die middedorp ervaar ’n ernstige tekort aan parkeerplek wat lei tot daaglikse klagtes van die publiek,” het hy aan Eikestadnuus gesê.

Petisie-ondertekenaars glo egter meer parkeerplek gaan net tot ’n toename in verkeer in die middedorp lei.

Volgens ’n mediaverklaring deur ’n groep organisasies, insluitend Stellenbosch Fietsry, het die munisipaliteit glo gefaal om ’n omvattende verkeersimpakstudie oor die projek te doen.

“[Ons] glo hierdie gebrek aan ’n diepgaande analise wek twyfel oor die doeltreffendheid van die projek om verkeersopeenhopings in die sakekern te verlig,” lui die verklaring.

Die munisipaliteit word ook daarvan beskuldig dat hy sy eie beplanningsbeleid oortree. Volgens die organisasies sluit dit die Raamwerk vir ruimtelike ontwikkeling van 2019, die Omvattende geïntegreerde ontwikkelingsvervoerplan (2022-2026), en die Nie-gemotoriseerde vervoer-meesterplan van 2020 (NGV) in.

Die organisasies glo hierdie beleide gee voorkeur aan moderne mobiliteitspraktyke, wat outomaties tot ’n afname in verkeer sal lei.

Hulle vra nou die munisipaliteit moet die proses staak omdat “te min werk” gedoen is.

“Ons vra vir ’n herevaluering en ’n deeglike maatstaf wat die beleidsrigtings van die munisipaliteit onderskryf of seker maak die plan sal werklik verkeersopeenhopings oplos. Ons is seker dit sal die teenoorgestelde uitwerking hê en verkeersopeenhopings vererger,” het Roland Postma, besturende direkteur van Young Urbanists, gesê.

Ila Alberts, ’n student in regte aan die Universiteit Stellenbosch wat ook teen die projek gekant is, het aan Eikestadnuus gesê die munisipaliteit moes meer gedoen het om studente se insae te verkry.

Die munisipaliteit glo egter hy is op die regte pad om die dorp toeganklik vir almal te maak.

Volgens Grobbelaar het die munisipaliteit veral ten opsigte van ’n afwesige treindiens, ’n funksie van die nasionale regering, reeds baie inisiatiewe onderneem om verkeersdruk te verlig. Die inisiatiewe sluit volgens hom die “opgradering van openbare vervoer- fasiliteite soos die Klapmuts-, Khayamandi- en Franschhoek-taxistaanplekke” in.

“[Ook die] ontwikkeling van addisionele parkeergebiede aan die buitewyke van die dorp, [insluitend die] skepping van parkeer-en-ry-fasiliteite en gesprekke met die [US] oor parkeerbeleide en reëlings.’’

Grobbelaar het ook aan Eikestadnuus gesê die projek is nie teenstrydig met die munisipaliteit se beleide nie.

“Dit is in lyn met die raad se goedgekeurde Omvattende geïntegreerde ontwikkelingsvervoerplan en die NGV-meesterplan,” het hy gesê.

Die fasiliteit gaan volgens Grobbelaar ’n alternatief vir straatparkering bied, en ondersteun die NGV-inisiatiewe. Hy het ook gesê strate wat na die fasiliteit lei, sal moontlike toenames in verkeer ervaar terwyl ander in die middedorp ’n afname sal ervaar. Volgens hom word gedetailleerde studies gedoen om die verkeersimpak presies te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.