Meeste graad 8’s nóg by Bloemhof

Die Hoër Meisieskool Bloemhof het vanjaar 148 nuwe graad 8’s – die grootste graad 8-inname tot op hede.


Die Hoër Meisieskool Bloemhof het vanjaar 148 nuwe graad 8’s – die grootste graad 8-inname tot op hede.

Saam met hul ouers is hulle Dinsdag 16 Januarie amptelik in die Bloemhof-sentrum verwelkom waar elk van die nuwe leerders die geleentheid gehad het om die skool- en adjunkhoof te ontmoet.

Die graad 8’s het ’n besige verwel­komingsweek gehad met, onder meer atletiek, boeresport en ’n oorslaap in die skoolsaal.

Akademiese verpligtinge het Maandag amptelik begin.

Hailey Hine (13) beskryf die verwel­komingsweek as “die beste ooit”. Sy meen die oorslaap was die lekkerste en al was almal skrikkerig vir die Blue Lady, Bloemhof se skoolspook, was sy nie bang nie. “Ek het baie nuwe vriende gemaak en dit regtig baie geniet.”

Hailey sê sy het Bloemhof gekies omdat die skool akademies sterk is en omdat die koor baie goed is. “Ek gaan vanjaar ook skaak en netbal vir die skool speel,” sê sy.

Emma Basson (13) deel Hailey se mening dat die hoërskoolervaring sover baie pret is. “Dit het my verwaginge oortref, veral omdat hier ’n aangename atmosfeer is. Almal is baie vriendelik en jy ontmoet baie nuwe vriende.”

Graad 8’s word tradisioneel by nuwe hoër skole verwelkom, maar by Bloemhof word ’n spesiale oriënteringsprogram gevolg om te verseker dat die oorgang vir die nuwe leerders doelgerig en pret is.

“Ek was baie bang vir dit wat voorlê,” erken Abigail Reynolds (13), “maar die ervaring was baie lekker en dit was ongelooflik om te sien hoe almal saamwerk. Die feit dat die onderwysers jou aanmoedig om aan alles deel te neem, al is jy nie baie goed daarin nie, maak dit nog lekkerder. Die susterskap wat ek ervaar, is baie spesiaal.”

Die skoolhoof, Wilna van Heerden, is ook opgewonde oor die nuwe graad 8’s.

“Vir enige skoolhoof is dit ’n riem onder die hart om te sien daar is nog lig en drome in ons kinders se oë.

“Dit is nou ons kosbare verantwoordelikheid om nie daardie lig te laat verdof nie, maar juis die regte mentors te wees om daardie drome te laat verwesenlik.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.