’n 14-jarige meisie van Khayamandi in Stellenbosch word sedert 22 Augustus vermis.
Volgens die Stellenbosch-polisiewoordvoerder, kaptein Nathalie Martin, is Sivenathi Mngqibisa laas deur haar familie gesien toe sy op 22 Augustus deur haar tante by die Stellenbosch-taxistaanplek afgesien is. Sy was op pad na Mfuleni na ’n ander tante van haar, maar het nooit daar uitgekom nie.
Sy is op 29 Augustus by die polisie as vermis aangemeld.
Sy het ’n ligblou denimbroek en grys trui aangehad toe sy laas gesien is.
“Haar Facebook-rekening wys dat sy in Johannesburg, Gqeberha (PE), Pretoria en selfs in die Kaap in ’n tydperk van vier weke, aangemeld het,” het Martin Vrydag (16 September) gesê.
Volgens Martin het Sivenathi glad nie ’n selfoon nie en kan dus nie opgespoor word deur middel van selfoonaanwysing nie.
Enigiemand met inligting kan Pink Ladies by 072 214 7439 / 083 378 4882 of sers. Preston Lombaard by 073 904 2546 bel.