Stellenbosch is lank reeds bekend vir goeie kos en dit is dus geen verrassing nie dat twee van die dorp se bobaas- kokke vanjaar deel is van MasterChef SA nie.
Melanie Jo-Anne van der Merwe (39) is ’n entrepreneur en kosliefhebber wat vir die plaaslike weergawe van die gewilde koskompetisie-reeks ingeskryf het.
Die ander Stellenbosser wat aan die kook-kompetisie deelneem is Lucas Roothman.
Bedags dra Melanie vele hoede as entrepreneur. “Ek het ’n Airbnb wat ek bestuur, ek bak koeke vir geleenthede en koffiewinkels, ek is ’n masseerterapeut, ek help my man met kunsprojekte en maak seker my twee dogters word na omgesien,” verduidelik Melanie, wat in Idasvallei grootgeword het.
Ten spyte van dié vol skinkbord vind sy steeds tyd om te bak en te brou vir genot. “My ma het in die kombuis getoor. Dit het my regtig geïnspireer en dis waar my liefde vir kos werklik begin het.
“Op hoërskool het ek regtig die eerste keer in die kombuis begin om my ma te help nadat sy ’n ernstige rugoperasie ondergaan het. Ons moes toe haar skoene vol staan, omdat sy nie soos voorheen kon kook nie,” sê Melanie.
Die Hoërskool Lückhoff-alumnus het ure lank na Nataniël se kookprogramme op die kassie gekyk en dan probeer om die televisiepersoonlikheid se disse na te maak vir haar gesin. Een van dié disse was ’n vegetariese lasagna met sampioen en natuurlik sonder enige vleis. Melanie sê skertsend dié dis het gewis nie haar pa of broers betower nie.
Die Stellenbosser het egter nie ophou eksperimenteer met kos nie. Haar liefde vir reis is deel van wat Melanie se kookwerk inspireer en dit is veral haar reise na Asië wat haar liefde vir “fusion”-disse aangewakker het. Sy bieg sy maak egter altyd seker om ’n Suid-Afrikaanse element in haar disse in te bring.
Melanie se bobaasresepte wat sy oor die jare verfyn het, sluit haar paella, risotto en haar gesin se gunsteling – botterhoender – in. Wanneer dit by bak kom, is Melanie se treffer haar wortelkoek. “Dit sal gewis die gebak wees wat ek sou voorsit om te beïndruk!”
Dit is egter nie net haar eie disse wat sy geniet nie. Melanie sê haar swaer, Steven, se Kaapse Maleise kerrie is ’n gunsteling.
Ander kontreikos wat sy ook geniet, is pampoenkoekies en gesoute snoek met vars brood en botter en ’n goeie koesister.
Melanie vertel sy was nog altyd ’n groot aanhanger van MasterChef en volg veral die Australiese weergawe van die program. “Dit reeks is so inspirerend. As kyker is daar ’n verwantskap wat jy later met die deelnemers het. Jy weet hulle is soos jy, byna deel van jou tribe – jy weet hierdie is jou soort mense. Dit is deel van wat die televisieprogram so wonderlik maak.”
MasterChef SA se vyfde reeks het reeds begin en Melanie het die eerste uitdun verlede Saterdag oorleef en was deel van die top-15 deelnemers wat meeding om die titel as Suid-Afrika se meestersjef.
Ná jare van die program volg het Melanie nou self hierdie vriendskapsband in die Suid-Afrikaanse MasterChef-kombuis beleef. Sy beskryf die ervaring tot dusver as “fenomenaal” en sê dit is besonders om die vaardighede van die ander deelnemers te ervaar. “Ek het so baie by hulle geleer – oor hul kultuur en veral die verskillende kos-kulture. Dit het my laat besef daar is steeds so baie verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse kos-kultuur waarvan ek nou leer.”
Kosmaak is immers ’n daad van liefde vir dié bobaaskok. Om meer uit te vind van ander se koskultuur is ’n manier vir Melanie om ’n vriendskap te bou. Dit is daarom geen verrassing dat reis en kos vir haar hand aan hand gaan.
Haar groot droom is om haar eie kos-reisprogram aan te bied.
“Indien ek MasterChef SA wen, sal ek gewis probeer om dié droom te bewaarheid. Dit sal wonderlik wees om te reis en saam met kokke van ander lande kos te maak. Ek sal my Suid-Afrikaanse kultuur met hulle deel terwyl ek meer oor hulle leer. Wat ’n wonderlike manier om ’n ‘brug’ tussen kulture te bou,” meen sy.
Melanie sê of hetsy die kook-kompetisie wen of nie, sal sy steeds die reis- en kosprogram wou vervaardig.
Of Melanie wel met die meestersjef-titel sal wegstap, sal kykers moet wag en kyk deur Saterdae om 19:30 op S3 (voorheen SABC 3) in te skakel. Die herhaling van die program word Woensdae om 18:00 uitgesaai.