In ‘n onlangse brief bied prof. Johan Fourie ‘n vurige verdediging van die luukse landgoedontwikkeling op Botmaskop in Stellenbosch (“Botmaskop: Houding grief”, Eikestadnuus, 24 April).
Hy begin met ‘n persoonlike staaltjie oor sy seun wat gefassineer is deur die masjiene wat elke oggend die berghelling vervorm. Gelukkig vir ons word besluite oor belangrike sake gewoonlik nie aan kinders oorgelaat nie.
‘n Mens verstaan die invalshoek: Konstruksievoertuie is inderdaad opwindend vir kleuters. Maar agter die sentimentaliteit lê ‘n dieper vraag: Watter soort plek bou ons, en vir wie?
Fourie voer aan dat teenkanting teen die ontwikkeling gedryf word deur “elitisme”, wantroue en verkeerde inligting. Maar dit stel die feite van die saak én die motiewe van diegene wat die projek teenstaan, verkeerd voor. Dit sluit in organisasies soos die Stellenbosse Belastingbetalersvereniging (SBV), die Stellenbosch-belangegroep (SBG) en ‘n lys van meer as 3 000 inwoners – almal burgerlike organisasies en individue wat strewe na verantwoordelike ontwikkeling en die bewaring van die unieke natuurlike en kulturele erfenis van Stellenbosch.
Laat ons by die feite begin. Hierdie organisasies is nie teen groei nie. Inteendeel, hulle het die oorspronklike ontwikkelingsvoorstel vir ‘n eko-oord vir die terrein ondersteun.
Waaroor die beswaar nou handel, is die aard van die groei wat Stellenbosch na-streef en of daardie groei die eienskappe wat die dorp so ‘n uiters gewilde woonplek maak, sal ondersteun of vernietig.
As elke heuwel in die omgewing opgedeel word vir omheinde gemeenskappe slegs vir die superrykes, sal Stellenbosch verander in ‘n plek van eksklusiwiteit en ekologiese agteruitgang – ‘n dorp wat sy natuurlike skoonheid een stuk grond op ‘n slag verkoop totdat niks oorbly van die plek wat soveel van ons lief het nie.
Die huidige ontwikkeling op Botmaskop is presies die soort projek wat die gevaar inhou om Stellenbosch in ‘n speelgrond vir die rykes te verander – ten koste van die breër openbare belang. Dit beperk toegang tot die berg, fragmenteer ekostelsels en versnel ‘n gevaarlike tendens waar openbare waarde vir private wins geprivatiseer word.
Fourie se bewering dat die ontwikkeling tot omgewingsherstel sal lei, is misleidend. Indringerspesies op die terrein kan en behoort verwyder te word en die proses is al vir jare aan die gang, grootliks gedryf deur individue wat op hul eie inisiatief en hul eie hulpbronne werk.
Hy bevraagteken ook die regsbasis van die interdik wat die konstruksie gestop het en stel voor dat dit onwaarskynlik is dat soveel “hoogs ervare professionele mense”, wat by die beplanning en goedkeuringsproses betrokke was, sulke ernstige foute kon begaan.
Maar dít is presies wat ‘n regter bevind het – dat daar voldoende rede is om die proses te stop, op grond van prosedurele en omgewingskwessies.
Stel Fourie voor dat ‘n ekonomiese historikus meer geskik is om die meriete van die saak te beoordeel as ‘n regter wat maande lank die besonderhede nagegaan het? Ironies genoeg misgis Fourie hom met die belangrike feite in sy stuk – veral sy bewering dat die huidige landgoed dieselfde voetspoor het as die aanvanklike eko-oord wat vroeër goedgekeur is (en wat die SBV, SBG en ander nie teëgestaan het nie, maar eerder aktief ondersteun het).
Die Staytus-landgoed wat nou onder bespreking is, het ‘n veel groter ekologiese impak – ‘n uitgebreide netwerk paaie, keerwalle, infrastruktuur en residensiële eenhede.
As selfs ‘n universiteitsprofessor – met toegang tot inligting en ‘n platform in die media – hom met sulke basiese feite kan misgis, dan is dit allermins onwaarskynlik dat foute, versuime of selfs wanvoorstellings tydens die goedkeuringsproses kon plaasgevind het.
Dis juis waarom ons howe het – om regstellende meganismes te bied wanneer administratiewe prosesse faal. Soos baie van ons besef, speel die howe ‘n noodsaaklike rol in die beskerming van ons regte en vryhede – veral teen magtige organisasies en individue.
Miskien is die mees ontstellende aspek van Fourie se brief die manier waarop hy teenkanting voorhou as irrasioneel of elitisties. Hy beskryf SBG as ‘n “onverkose” groep – asof net verkose amptenare die reg het om besorgdheid uit te spreek – terwyl hy ignoreer dat ontwikkelaars, beleggers en beplanners self op geen manier demokraties aanspreeklik is nie.
In werklikheid bestaan die SBG en die SBV uit bekommerde inwoners wat diep toegewyd is aan die dorp se langtermyn- welstand. Dis mense wat sonder beloning hul kennis, tyd en dikwels ook geld
gebruik met die wete dat hul werk help om die dorp vir ons kinders te bewaar. Kan dieselfde van enige van die teenpartye gesê word?
En hier is nog ‘n ironie: Die Botmaskop-ontwikkeling word teengestaan vir kinders soos Fourie se seun, sodat hy eendag wanneer hy nie meer bulldozer-bevange is nie, in die berge kan gaan stap en sampioene pluk, of soos ‘n maniak teen die steilste hellings op ‘n bergfiets kan afjaag asof môre nie bestaan nie, of dalk met sy eie gesin daar kan gaan piekniek hou en weet dat daar ‘n kans is om ‘n klipspringer te sien.
Dalk sal sy klong dan dankbaar wees dat nie elke bergkruin gelykgestoot is vir ‘n villa met ‘n uitsig nie; omdat daar mense was wat gesê het – genoeg is genoeg.
Laastens, laat ons nie groot geld verwar met die openbare belang nie – R770 miljoen kan sement, mure en versorgde grasperke koop, maar nie legitimiteit of vertroue nie.
Dit maak nie saak hoe blink die bemarkingsbrosjure of hoe hoog die eiendomsbelasting is nie – luukse-ontwikkelings vir die superrykes is nie ‘n plaasvervanger vir verantwoordelike beplanning nie.
Wanneer ons ons natuurlike erfenis laat platslaan vir private wins, of ‘n gedeelde landskap in ‘n omheinde eklave omskep, verloor ons meer as net plante en fietsroetes. Ons verloor iets wesenliks – die siel van die dorp, die gemeenskaplike nalatenskap van sy mense en die reg van toekomstige geslagte om hulself in die berge te bevind – nie afgesluit deur omheinings van luukse landgoedere nie.
Hierdie debat gaan nie oor die staak van alle ontwikkeling nie, maar om beter ontwikkeling te eis wat al die dorp se mense dien – nie net die rykes nie – en deur mense wat erken dat sommige plekke te kosbaar is om ooit te verkoop, maak nie saak wat (of hoe hoog) die prys is nie.
Johan Slabber, Stellenbosch