By Kerslig, 'n rubriek deur Karin Hubbard
By Kerslig, ‘n rubriek deur Karin Hubbard

Ek verlang dikwels terug na die sorglose dae toe ek en my sussie op die sementdam se wal op oupa se plaas gesit het. Ons het altyd ‘n kompetisie gehou van wie die klip die verste kon gooi.

Ons het ook ons tone in die water gesit en gewag op ‘n wonderwerk om ‘n vis met ons tone te vang. In retrospek, as ek ‘n vis was, sou ek ook nie aan stink tone kom knibbel het nie.

Rimpels is gemaak elke keer as ‘n voorwerp die water tref. As die teorie waar is – dat alles energie is en ons almal aan mekaar verbind is – is dit dan nie waar van ons menswees nie? Is ons menswees nie ook besig om elke dag oral om ons rimpels te maak nie?

Die geleerdes sê menswees is die komplekse interaksie van biologiese, kognitiewe, emosionele en sosiale karaktertrekke.

Die Supertaal-woordeboek beskryf menswees as die menslike bestaan, toestand om mens te wees en om ander menswaardig te behandel.

Vir my is menswees die voluit leef van die lewe as mens, met al die vreugdes, hartseer, emosies, uitdagings, foute en suksesse. Ons woorde en dade moet ‘n invloed hê.

Dink maar terug aan die eerste keer dat jou kind vir jou sê: “Ek hou nie meer van jou nie,” net omdat jy hom getug en op die regte pad probeer lei het.

My moederhart het ‘n paar hartkloppe gemis.

Of hoe het jy gevoel toe ‘n kollega by die werk onbeskof was; as skinderstories oor jou vertel word?

Min van ons kan sê dit vat nie aan ons binneste nie.

Ek sê dikwels dat ander se gedrag vir my sê wie hulle is; nie wie ek is nie. My reaksie op hul gedrag bepaal in dieselfde asem wie ek is en wys wat binne my aangaan.

Dit is dalk daarom dat al die slim mense jou aansê om asem te haal voordat jy reageer.

Ander se mensweesrimpels het al verskeie reaksies in my lyf tot gevolg gehad.

Verskeie tsoenami’s het al in my lyf losgebars en dan was my woede so erg dat ek nie kon praat nie. Die tsoenami se water het dan by my oë uitgestroom.

Ander kere het dit gevoel of die grootse gorilla in die oerwoud my hart gryp en my longe vasdruk. Al die bloed en suurstof het uit my lyf gevloei sodat my menswees van hartseer tot stilstand gekom het.

Soms het mense se omgee my laat voel soos die klein dogtertjie wat op my pa se skoot aan die slaap geraak het – veilig; salig; onvoorwaardelik aanvaar. Ek het ‘n sin van behoort ervaar; in kort het ek gevoel “ek maak saak”.

Die ander kant van die muntstuk is ook waar. Soos wat ander rimpels in my lewe kom maak het, het ek net so in ander se lewens rimpels gemaak en soms meer storms as kalm waters veroorsaak.

Die waarheid is ook dat ons in ‘n onvolmaakte wêreld leef en ons voete van klei het. Ons maak foute.

Soos een van my vriendinne altyd sê – probeer elke dag net vyf persent beter wees as die vorige dag.

Toe my seun so ses jaar oud was, het hy vir my gesê: “Jammer ek is so stout, Mamma, maar dis al manier hoe ek leer.”

Genadiglik is elke dag ‘n kans om oor en nuut te begin met genade van Bo – en vergifnis.

Ek het eendag, toe ek moedeloos was omdat my twee kinders net te veel tsoenami’s in mekaar se binneste veroorsaak, hulle langs die tafel neergesit, ‘n stuk plank gevat en spykers daarin geslaan en dit weer uitgetrek, en probeer verduidelik dit is hoe ons lelike woorde gate in mekaar se siele maak. Met vergifnis kan die gate toegemaak word, maar die litteken bly.

Jak de Priester sing ‘n liedjie “Moeilik om ‘n mens te wees”. Dit is feite. Sou dit nie wonderlik gewees het as ons mekaar kon help sodat dit nie so moeilik is om mens te wees nie; asem te haal voordat jy rimpels maak; verantwoordelikheid neem vir ons rimpels en kies dat ons invloed kalm water in plaas van tsoenami’s tot gevolg het.

Ons kan kies om nie modderspore of spykergate in ander se siele te los nie.

Soos Jak de Priester sing: “As ons mekaar net kon aanvaar vir wie en wat ons is – geen kleur en geen grense, geen haat en ook geen skuld.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article