Polisievoertuie op die toneel waar menslike oorskot gevind is
Polisievoertuie was Dinsdagmiddag (15 Junie) op die toneel waar die oorskot gevind is.

Menslike oorskot wat in die veld langs Avian Park in Worcester deur twee jong meisies en hul ouma gevind is, laat inwoners wonder of dit die liggaam van Marceleen (Murcia) Kock kan wees wat drie weke gelede in dié woonbuurt vermis geraak het.

Die gemeenskap en polisie het reeds verskeie soektogte na die vermiste Kock (23) van stapel gestuur. Haar mansvriend het Maandag, 14 Julie in die hof in Worcester verskyn op klagtes van onder meer aanranding wat Kock voor haar verdwyning teen hom gelê het. Hy verskyn weer Woensdag 27 Augustus.

Anna Paulse, wat Murcia geken het, het Maandag saam met haar twee 11- en 12-jarige kleindogters in die oop stuk veld agter die woonbuurt gaan soek. “Ek het verlede week Donderdag ‘n ribbebeen in ‘n plas water in die veld sien uitsteek. ‘n Groep seuns het vir my gesê dis ‘n bok. Dit het my die heeltyd bly pla, want as kind het ons bokke geslag en dit het nie so gelyk nie. Ek het Maandag besluit om weer te gaan kyk, want dit was ook naby ‘n plek waar ‘n drom verlede week gebrand het,” het Paulse gesê. Haar kleindogter het uitgeroep toe sy ‘n gedeelte van ‘n hand sien. Dit het tot die ontdekking van die res van die oorskot gelei.

“Dit wil lyk asof die bene gebrand is,” het raadslid Desiree Judge, wat by die soektog betrokke was, gesê.

“Wat ons nie kan verklaar nie, is dat ons verskeie soektogte in daardie deel gehad het. Die polisie was ook daar met hul helikopter, hommeltuig en die honde-eenheid het ook in daardie deel gesoek,” het sy gesê.

Van die inwoners sê die varke wat in die oop stuk veld agter die huise loop, was na die naweek die heeltyd in daardie omgewing en kon die oorskot moontlik oopkrap. Reënweer het vroeër die soektog na Kock bemoeilik.

AO Vathiswa Jacobs, woordvoerder vir die Worcester-polisie, het bevestig dat menslike oorskot in die veld gevind is. “Ons kan nie in hierdie stadium bevestig of dit wel Murcia Kock is nie en sal dit eers kan vasstel wanneer DNS-toetse gedoen is,” het sy gesê.

Klere en skoene wat Kock se suster uitgeken het as hare, is Vrydag 3 Junie langs die rivier by die brug by die Nekkies-vakansieoord gevind. Dit is ‘n paar honderd meter van waar die oorskot gevind is.

Standard Breederiver Gazette het vroeër berig dat Kock volgens die gemeenskap gereeld aangerand is. Sy het, kort nadat sy klagtes teen haar vriend by die polisie gelê het, verdwyn. Op ‘n foto van haar wat tydens die soektog versprei is, is daar merke aan haar nek en gesig. ‘n Buurvrou het gesê sy het een aand kort voordat sy vermis geraak het om hulp geskree het in die nag, maar dat hulle te bang was om ondersoek te gaan instel.

Dinsdagmiddag was verskeie polisievoertuie op die toneel besig om verdere leidrade in te samel. Volgens Jacobs duur die ondersoek voort.

Anna Paulse en haar twee kleindogters het op die oorskot afgekom. Foto’s: Ronél van Jaarsveld

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article